Local sportSport

Kemptonparker maak moordende dubbel-ysterman klaar

Die dubbel Ysterman bestaan uit 7.2km swem, 360km fietsry en 84.4km draf

SALO Minnaar (32) van Kemptonpark het op 4 Julie met ’n tyd van 31 uur en 35 minute die dubbel ultra driekamp-wêreldkampioenskappe in Velence in Hongarye klaargemaak.

Daarmee het hy die ystermantitel verdien, want elke deelnemer wat dié moordende kompetisie onder 34 uur klaarmaak, verower die titel.

Onder die 38 deelnemers was Salo die enigste verteenwoordiger van Afrika.

Dié ysterman-kampioenskappe bestaan uit ’n 7.2km swem in die Velence-meer, 360km fietsry deur die platteland en ’n 84.4km wedloop langs die meer. Salo het op Vrydag, 3 Julie, om 10vm begin swem en op Saterdag, 4 Julie, om 6.30nm die kompetisie voltooi om in die 21ste plek te eindig.

Hy het reeds vier half-ystermankompetisies in Port Elizabeth agter die blad en het vanjaar sy eerste dubbel-kompetisie aangepak.

“Vir my beteken die titel dat ek nog nie die limiet bereik het waartoe die menslike liggaam in staat is nie. Ek dink nie dit het al heeltemal ingesink dat ek ‘n dubbel-ystermantitel agter my naam het nie, ek voel nog presies dieselfde,” sê Salo.

Salo glo dat hy bevoorreg is om sy passie vir driekamp in ’n stokperdjie te kon verander. “Ek het so sewe jaar gelede met driekamp begin, met ’n hele paar ‘nou is ek klaar’-oomblikke tussen-in.”

Hy volg geensins ’n eetplan nie en oefen drie keer per week met een of twee langer sessies oor naweke. Hy oefen nooit langer as ’n uur en ’n half op ’n slag nie. “So twee weke voor ’n lang wedloop sal ek onsuksesvol probeer gemorskos uitsny,” grap Salo.

Vir Salo is sy motivering, wanneer hy moeg raak, sy omgewing, sy gesondheid, al die voorregte in sy lewe, duisende gedagtes wat hy saam met hom dra, familie en vriende se boodskappe van ondersteuning, dinge wat by die werk moet gebeur en daardie grappie wat hy nog vir sy broer moet vertel.

“My familie en vriende is ’n absolute steunpilaar. Ek sal hulle nooit genoeg kan bedank nie. Dis ongelooflik watter motivering ’n sms van jou 94-jarige oupa kort voor die begin van ’n kompetisie kan wees. Mens besef nooit hoe baie ondersteuning jy het tot mens so iets aanpak nie. Daar is werklik so baie mense om te bedank, my ouers is rotsvas, maar verder lewer elke klein boodskap ’n enorme bydrae tot sukses,” sê Salo.

Salo pak Saterdag die half-ysterman in Durban aan en die 5150 driekamp in Warmbad op 22 Augustus. Verder lê ’n drie-dag bergfietswedren in Swaziland in Oktober en verskeie fietsrenne rondom Johannesburg nog vir hom voor.

“Volgende jaar doen ek weer die half-ysterman in PE en dan sal ek nog besluit of daar iets groter oor my pad kom. Vir nou wil ek eers bietjie bene rus,” sê Salo.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button