EntertainmentLifestyle

KYK: Oud-Jeugie gesels oor nuwe film, Liewe Lisa

Maro Spaumer praat oor sy nuwe film en wat presies Hoërskool Jeugland se geheim is om beroemdes op te lewer.

As kind was Marco Spaumer van Van Riebeeck Park heel moontlik voor die kassie of agter storieboeke te sien. Hy kon stories, énige stories, verslind.

Vandag kyk hierdie oud-Jeugie nie net sepies en films nie, hy speel ook daarin, want stories is steeds sy passie.

“My hoop is om ’n loopbaan te hê wat ander sal laat tuis voel in hulle eie stories,” vertel die nou 27-jarige aan Express.

Nadat hy musiekteater aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer het, het Marco die rol van Roberto in die sepie 7de Laan losgeslaan. “Ek was bloedjonk en onervare, maar almal moet iewers begin.”

Vandag is Marco nie meer so nat agter die ore nie. Hy het, onder meer, ’n rol in Binnelanders, Suidooster, verskeie films en kykNET-programme op sy kerfstok.

Noú kan hy nog een byvoeg, aangesien hy vanaf 14 Februarie in die liefdesdrama Liewe Lisa te sien sal wees. Hy vertolk Willem, die aansienlike perfekte kêrel van Lisa.

“Willem is die tipiese kêrel wat jou ouers van sal hou,” vertel Marco. “Nes hy is ek ook veilig, maar hopelik nie te voorspelbaar nie,” skerts hy.

Aan die stuur van die film, geskiet in Stellenbosch en in die Weskus-dorpies Stompneusbaai en St Helenabaai, was skrywer en regisseur Hendrik Cronjé. Dit is Cronjé, beter bekend as Lukas Mulder in 7de Laan, se debuutfilm. Hy vertolk ook die hoofrol, Daniel.

“Cronjé is vreeslik gefokus, maar ook die tipe mens wat ’n spul dinge op dieselfde tyd wil en kan doen,” vertel Marco. “Dit was heerlik om te sien hoe hy die film aangepak het en om hom dop te hou met die keuses wat hy gemaak het.”

Volgens Marco is hierdie film vir almal.

“Meeste van ons gaan aanklank by die storie vind. Veral mense wat daarvan hou om liefde sy pad te sien vind, sy draaie maak en hopelik die moeilike dinge in die lewe oorbrug.”

Marco is nie die enigste beroemde wat kan sê sy wortels lê by Hoërskool Jeugland nie. Die skool spog met oud-leerlinge en akteurs Leandie du Randt-Bosch en Jacques Bessenger, komediant Schalk Bezuidenhout en radio-omroeper Elsa Esterhuizen, om maar ’n paar te noem.

“Daar was goeie hande wat ons gedra het,” deel Marco die geheim. “Sonder mense soos juffrou Zelna du Plooy en koorleier Richter Grimbeek sou ons nie al die geleenthede gehad het nie.”

Marco het raad aan enige skoolgangers wat graag akteurs wil wees: “Lees jou ore af, verloor jouself in ander se stories en hou mense altyd fyn dop.”

Vinnige vrae vir Marco:

1. In my vrye tyd… lees ek my ore af.

2. Kempton Park is… waar alles begin het.

3. Ek kyk op na… elke persoon wat hom of haarself kan wees in ’n generasie waar ons nie altyd onsself mag/kan wees nie.

4. As ek nie ’n akteur was nie sou ek… heel moontlik ’n sielkundige of voltydse leser gewees het.

5. My versteekte talent is… ek weet nie hoe versteek dit is nie, maar ek is goed in die kombuis.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button