Grapjasse tree by Jeugland op vir Driehoek-slagoffers
Die kunstenaars sal verniet optree, en alle opbrengste sal aan die skool in Vanderbijlpark se rampfonds geskenk word.
Kunstenaars van regoor Suid-Afrika sal op 19 Februarie om 8nm by Hoërskool Jeugland hande vat om geld in te samel vir die Hoërskool Driehoek brugtragedie-slagoffers.
Die vertoning, gepaslik genoem Humor Help, sal grootnaam-komediante Casper de Vries, Alfred Adriaan, Bennie Fourie, Joey Rasdien, Hannes Brümmer en Cobus van Rensburg insluit.
Sanger Bouwer Bosch en duo Dans Dans Lisa sal sorg vir verdere vermaak, en wat is ’n Jeugie-geleentheid sonder Schalk Bezuidenhout as gasheer? Hierdie goedhartige kunstenaars sal verniet optree en die volle opbrengs van die kaartjieverkope sal aan Hoërskool Driehoek gaan.
Kaartjies kos R150 ‘n persoon en R100 vir skoliere. Lesers kan 064 650 2633 skakel vir besprekings, of ’n e-pos stuur aan humorhelp@yahoo.com.


