Musiekteater by koffiewinkel is afgestel
Fondse wat tydens die funksie ingesamel word, sal tot voordeel van MES Kempton Park se bestaande programme, sowel as die vestiging van nuwe programme by die tak, wees.
29 Januarie 2020:
MES moes ongelukkig hierdie funksie weens onvoorsiene omstandighede afstel.
Mensch, ’n musiekteaterproduksie, word op 7 Maart saam met ’n hoë-tee-buffet deur Mould Empower Serve (MES) Kempton Park in Glen Marais aangebied.
Dié produksie, wat beoog om gehore met stories en musiek op te wek, soos deur die pen van Marika van Heerden vertel, handel oor mense vanaf Johannesburg, deur die Karoo, die Boesmanland tot aan die Weskus.
Van Heerden, ’n voormalige maatskaplike werker, was in November 2017 met borskanker gediagnoseer en het ’n maand later met behandeling begin. Ses weke na die mastektomie het sy die Visrivier-bergkloof in Namibië gaan stap.
Deur mylpale soos dié te bereik, meen sy: “Dit het weer eens bewys dat die mens tot soveel meer in staat is as wat hy soms wil glo.”
Sy het gedurende September 2018 op RSG deelgeneem aan ’n hoorbeeld oor kanker deur Esté Gross. Die hoorbeeld heet Een dag op ’n slag.
Mensch is ’n fondsinsamelingsprojek vir MES Kempton Park, wat vanjaar sy 10-jarige bestaan vier. Fondse wat tydens die funksie ingesamel word, sal tot voordeel van MES Kempton Park se bestaande programme, sowel as die vestiging van nuwe programme by die tak, wees.
“Op die oomblik huisves ons amper 50 mense in die oornagskuiling en deur ons Grow-werksrehabilitasieprogram help ons werkloses, hoofsaaklik vanuit die skuiling.
“Die hulp sluit in daaglikse werkswinkels en geestelike verrykingsprogramme, saam met betaalde skofte vir hulp met ons herwinningsprojekte en skoonmaakdienste by ’n plaaslike skool,” het Helena van Blerk, takbestuurder van MES Kempton Park, gesê.
Ander programme by die tak sluit in ’n naskoolprogram vir 15 kinders, sopkombuis, klerebank en ’n verskeidenheid van uitreike na klante in die skuiling, asook ’n maandelikse straatuitreik.
Die produksie en hoë-tee-buffet word om 10vm by Dekadent-koffiewinkel by Monumentweg 229 aangebied. Van Blerk het gesê dat die koffiewinkel die hoofborg van die byeenkoms is, maar dat daar wel sekere operasionele uitgawes aan die produksie self is.
“Dit is eg, dis eerlik en dis waar. Dis stories wat jou binnewaters sal roer en wat jou gaan laat lag, laat huil en laat dink. Die musiek kom vul jou binneruimtes met lirieke en talent en saam met die stories maak ons seker dat jy ’n gesonde stuk egtheid beleef om ’n huppel in jou stap te sit,” het Van Heerden oor haar produksie gesê.
Vir meer inligting en kaartjies, wat R250 ‘n persoon kos, skakel Aloma Swanepoel by 011 024 4580 of stuur ’n e-pos na aloma@mes.org.za
