
Die NG Gemeente Kempton Park-Noord hou op 7 Maart sy jaarlikse kerkbasaar vanaf 9vm by die kerk in Highveldweg 99.
Die tema vir vanjaar is karnaval.
Die tuisgebak in die teetuin beloof om weer ‘n wenner te wees met koeke, terte, beskuit en ander gebak vars uit die oond.
Op die spyskaart is kerrie-en rys, pannekoek, jaffels, hamburgers en boereworsrolle. Basaarpoeding, koud en warm, is ook beskikbaar teen weggeepryse.
Ook te koop is vars groente, vars lamsvleis en boerewors.
Vlytige Hande, ‘n projek van vrouelidmate, sal ook daar wees. Hulle brei dat die naalde klap om behoeftige mense in die winter van iets warms te voorsien. Van hulle handwerk sal te koop wees om hul eie fondse aan te vul ter voorbereiding van die winter.
‘n Witolifanttafel en ander stalletjies maak deel uit van die dag. Kinders kan uitsien na speletjies en ‘n springkasteel.
