Bespreek nou vir goue oues-kelderkonsert Sondag
Die lekkerte van die produksie is dat die speellys deur die publiek saamgestel word.
Goue Oues met Alwyn Oberholster word op Sondag, 31 Mei om 5nm as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai.
Kaartjies kos slegs R65 per huishouding om die volle produksie in jou eie sitkamer te geniet.
Besprekings kan gedoen word by www.itickets.co.za. Daar is ook ‘n donasie-opsie as jy bespreek om kunstenaars in Suid-Afrika te help.
Die lekkerte van die produksie is dat die speellys deur die publiek saamgestel word. Al wat jy moet doen, is om die volgende na 33000 te SMS: die kodewoord LEFRA, gevolg deur ‘n spasie, dan die naam van jou gunsteling goue oue liedjie, gevolg deur nog ‘n spasie, en dan jou naam en van en ook ‘n boodskappie aan iemand spesiaal.
Dit kan ook ge-epos word aan wen@lefra.com.
Op die ouderdom van ses het Alwyn sy passie vir musiek ontdek en so het sy sangloopbaan begin. Nadat hy aan verskeie sangkompetisies deelgeneem het en nadat hy die “pub scene” behoorlik gedoen het, het hy besluit om die teater te betree met sy besondere Goue Oues-produksies.
Die eerste Goue Oues is tydens die Oppiwater Kunstefees in 2017 vrygestel, en was die produksies een van die eerstes wat uitverkoop was. Die Goue Oues-reeks is nou al ‘n instelling tydens die Oppiwater Kunstefeeste weens die gewildheid daarvan. Alwyn het ook tydens vorige Oppiwater Kunstefeeste opgetree met ‘n Beautiful Noise – A Tribute to Neil Diamond en Soen My, Druk My.
Alwyn is gewild onder gehore vir sy vertolking van die ouer treffers deur sangers soos Billy Joel, Neil Diamond, Allen Jackson, die Staccatos, die Bee Gees en vele meer.
