Bespreek nou vir Groet die Grotman 2 in jou sitkamer
Lefra het 'n hele reeks kelderkonserte beplan wat tot 26 Julie aangebied gaan word.
Dit is twintig jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle?
Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vroue is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vroue van Venus.
Die skreeusnaakse Wynand (Karate Kallie) van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman 2, en Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.
Groet die Grotman 2 is Lefra se derde kelderkonsert en word op Sondag, 7 Junie om 5nm as regstreekse aanlyn-produksie uitgesaai.
Kaartjies kos R120 per huishouding om die volle produksie in jou eie sitkamer te geniet. Besprekings kan gedoen word by www.itickets.co.za.
Lefra het ‘n hele reeks kelderkonserte beplan wat tot 26 Julie aangebied gaan word.
In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vroue op komiese wyse uitgebeeld.
“Mans en vroue lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” sê Swart. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse.”
Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.
