KYK: Kempton sanggroep ontstaan uit grendeltydperk wanorde
Die groep het konsensus bereik dat dit hulle doel is om mense bymekaar te bring.
Langs ‘n rustige vuur op ‘n Vrydagaand het Express saam die manne van Onskuldige Doodsvonnis gesels oor hul bestaan sedert die begin van grendeltydperk.
Op dag 82 het die groep reeds hulle eerste enkelsnit en musiekvideo op YouTube op Jeugdag, 16 Junie, vrygestel.
Binne die eerste week sedert die vrystelling was die video reeds meer as 1 000 keer gekyk.
Covid-19 is ‘n era ryp vir kreatiwiteit waarmee mense kon ontlont binne die Suid-Afrikaanse konteks gepaard met streng inperkingregulasies wat werke soos Wanorde! die lig laat sien as by-produk van omstandighede.
LEES OOK:
Breigroep verdryf die koue by aftree-oord
“Ons almal het in een huis gebly, want Aid’n (Oosthuizen) se ouers het met vakansie na Calvinia in die Noord-Kaap gegaan. Ons het besluit ons wil daar bly vir die aanvanklike 28 dae, want mens kon nêrens heen gaan nie en ons het geweet ons wil musiek maak,” het Johan Heine, kitaarspeler van die groep, gesê.
Damian Strydom, die hoofsanger, het gesê die liedjie het as ‘n grap ontstaan.

“Ons was besig om Ozzy Osborn te luister toe Johan begin rondspeel met ‘n cool riff. JP Roux wat nog elke dag gewerk het kon ‘n hele dag afvat om aan die song te werk en ek gebruik toe goed wat ek al begin neerskryf het.
“Ek maak die boek oop en het spontaan die woorde begin skree, en toe hou almal daarvan. Teen daai tyd was Wanorde! eintlik al die agtste liedjie wat ons saam gedoen het. Ons wou nog altyd ‘n politieke-styl liedjie geskryf het wat ‘n boodskap oodra, veral in dié tye wanneer dit so belangrik is.
“Wanorde! is in ‘n studio verwerk. Ons almal loop met idees en lirieke in ons gedagtes. Wanneer ons kuier wys ons dit vir mekaar en probeer dit aanpas om te vloei en ‘n goeie liedjie te maak,” het Johan verduidelik.
Damian en JP ken mekaar sedert laerskool en kuier gereeld.
“Ons droom om mense se diepste gevoelens aan te wakker deur te sê dis oukei om trots te wees op jou identiteit, saam te staan en sodoende mense te laat besef dat jou toekoms nie van jou gesteel hoef te word nie,” het Johan gesê.
Damian het verduidelik: “Ons moet dink aan wat oor 20 jaar sal oorbly. Sommige mense wat geld het skiet landuit, maar wat van die mense wat nie geld het nie.
“Die wat glo in hulle taal en kultuur.”
Die groep het konsensus bereik dat dit hulle doel is om mense bymekaar te bring.
Beleef die eindproduk van dié Kempton groep.
Die musiekvideo behels polsende ritmes, ligte en rou passie aanloklik gemaak deur die lied se knippie aggressie as simbool vir bevredigende katarsis in die blik van ‘n geweldadige Suid-Afrika.
Wanorde! is beskikbaar op Apple Music en Spotify. Kyk daarna op YouTube
Also follow us on:




