Local newsNews

Kinders steeds in hospitaal na ongeluk

Een meisie veg om haar hand te behou, die ander een het steke van oor tot oor. Die een seun is in die intensiewe eenheid en die ander een moet plastiese chirugieweens 'n kopbesering kry.

Die bestuursraad van Unity Primary School, ‘n skool waar geen skoolfonds betaal word nie, het op Saterdag 9 November met die ouers van die kinders wat in ‘n busongeluk op die R24-Tarltonpad (Albertina Sisuluweg) betrokke was, vergader.

Matebisi Maniswa, die eienaar van dié bus was ook by die vergadering, sê skoolhoof Lana Coetzee.

“Tydens die vergadering het dit duidelik geword dat die buseienaar volgens die ouers nie met hulle wil saamwerk nie en hulle het na die ongeluk self hulle kinders skool toe en terug geneem.”

Van die kinders wat ten tyde van die ongeluk in die bus was, kom van Tshepisong in Soweto, Kagiso, Munsieville, Krugersdorp-Wes en ander gebiede in Krugersdorp.

Coetzee het aan die NUUS gesê dat al die kinders nog nie terug by die skool is nie en dat twee meisies en twee seuns nog in die hospitaal is.

“Een meisie veg om haar hand te behou en die ander een het steke van oor tot oor. Die een seun is in die intensiewe eenheid en die ander een moet plastiese chirugie weens ‘n kopbesering kry.”

In die week waarin die ongeluk plaasgevind het, het die verkeersafdeling volgens ‘n betroubare bron gereed busse en taxi’s wat leerlinge van die skool vervoer het, afgetrek en hulle lisensies en padwaardigheid nagegaan.

Die skool, wat 1 026 leerlinge het, ontvang glad nie skoolgelde van ouers af nie en daarom is daar altyd nood.

Die erg beseerde leerlinge sal moontlik verdere operasies moet ondergaan en die ouers moet boonop ekstra vir vervoer na en van die hospitale vir opvolgbesoeke opdok.

Omdat die skool net geld by die Departement van Onderwys kry, sal hulle steeds op vervoer van private bus- en taxi- eienaars moet staatmaak.

“Indien ‘n ouer wil vasstel of die bus of taxi padwaardig is, en of die bestuurder ‘n geldige lisensie het, mag hulle die bewyse vra,” sê Coetzee.

Enige iemand wat die skool met enige donasies of idees vir ‘n fondsinsameling wil help, kan die skool by 011 952 1028 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button