Local newsNews

Onwettige U-draai kos seuntjie (4) se lewe

Vragmotor maak onwettige U-draai op 'n besige pad wat die sig van aankomende verkeer belemmer het.

‘n Familienaweek saam het vir een gesin in ‘n tragedie geëindig.

Die lewe van ‘n vierjarige seuntjie, Clarkie Breedt, is op Goeie Vrydag kortgeknip toe die motor waarin hy saam met drie ander, waaronder sy ma, gery het, met ‘n ander voertuig gebots het.

Volgens inligting blyk dit dat ‘n vragmotor ‘n onwettige U-draai op die hoek van Chelsealaan en Ontdekkersweg in Silverfields gemaak het, wat tot die ongeluk gelei het.

Raadslid Anette Fourie van die Demokratiese Alliansie sê die vragmotor was glo in die rigting van Roodepoort op pad toe dit in Krugersdorp se rigting teruggedraai het .

“Die vragmotor het die sig bemoeilik van bestuurders wat in die rigting van Krugersdorp gery het. Die bestuurder van die motor waarin die seuntjie was, was in die linkerbaan onderweg in Roodepoort se rigting toe die botsing  plaasgevind het toe die bestuurder van die ander voertuig in Chelsealaan wou indraai.”

Sy sê die vragmotorbestuurder het van die toneel af weggery.

Paramedici het op die toneel na die beseerdes omgesien.

Fourie sê dat hierdie ongeluk die lewe van ‘n onskuldige kind geëis het omdat padgebruikers nie meer die padreëls gehoorsaam nie.

Sy verduidelik dat ‘n verkeerslig reeds ingevolge die Besigheidsbeleid van 1998 by die kruising van Chelsealaan en Ontdekkersweg opgerig moes gewees het.

“Dit sou verhoed dat sulke ongelukke gebeur, want padgebruikers maak daagliks onwettige U-draaie by hierdie kruising ten spyte van die padtekens wat wys dat daar geen U-draaie gemaak mag word nie.”

Daar is intussen slegs voorsiening gemaak vir motors wat wil afdraai deur ‘n ekstra baan aan te bring.

“Daar sal nou weer ‘n vergadering gehou word om te bepaal of padtekens en -merke verbeter kan word, byvoorbeeld deur U-draaie by hierdie kruising te verbied. Indien dit nie gehoorsaam word nie, moet daar streng teen oortreders opgetree word.”

Fourie sê hierdie kruising is bekend vir sy swaar verkeersvloei omdat dit die in- en uitgangspunt is vir inwoners van Silverfields, Kenmare en Rangeview.

“Die ongeluk is ‘n baie tragiese gebeurtenis en dit beklemtoon die feit dat iets daadwerklik gedoen moet word.”

Die news wag nog vir die polisie se kommentaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button