Local newsNews

Eerder Kersfeesgees as om te bedel

'n Man wat sy werk verloor het nadat hy vir drie weke gehospitaliseer was, het besef daar is baie om voor dankbaar te wees.

In plaas daarvan om by die verkeersligte te staan en bedel het ‘n man besluit om eerder sy nuwe besigheid se pamflette daar uit te deel – en dit nogal in die gees van Kersfees.

Stewart Murdoch het motoriste in sy rooi Kersvaderpak by die verkeerslig op die hoek van Barratt- en Voortrekkerweg begroet waar hy suiglekkers saam met sy besigheid se pamflette uitgedeel het.

Hy verduidelik hy het besluit om Kersfees ses maande vroeër te hou omdat dit eintlik elke dag gevier behoort te word.

Stewart Murdoch in sy Kersvaderpak besig om sy besigheid se pamflette in Voortrekkerweg uit te deel.
Stewart Murdoch in sy Kersvaderpak besig om sy besigheid se pamflette in Voortrekkerweg uit te deel.

“Ek het geleer daar is so baie dinge waarvoor ‘n mens dankbaar moet wees, veral as jy in die posisie was waarin ek was.”

Murdoch het ‘n paar maande gelede sy werk verloor toe hy vir sowat drie weke gehospitaliseer was. Sy vrou was self vir ‘n ruk lank in die hospitaal.

“Om daarna werksgeleenthede te soek is moeilik, want jy doen dit elke dag vir omtrent agt uur lank asof jy reeds ‘n werk het.”

Die filosofie dat hy sal saai wat hy maai het hom regdeur die werksoekery aan die gang gehou.

In sowat twee maande het hy met meer as 500 mense op verskillende sosiale netwerke genetwerk en het ou skoolvriende, familie, voormalige kollegas en enigiemand wat hy kon opspoor, opgesoek.

“Ek het ook met potensiële kliënte van Botswana in aanraking gekom.”

Murdoch se passie is vensters en deure en hy verwys na homself as die venster-en-deure leefstylkonsultant.

“Ek is nie die vervaardiger of verskaffer nie. Ek verkoop myself as die persoon wat jou sal help om die regte produkte by die verskaffers te kies. Ek sal eerder toesien dat jy goeie gehalte produkte koop as wat jy ‘n goedkoop produk koop en later daarmee ontevrede is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button