Local newsNewsUpdate

Numsa stakers los ‘n skade streep

Betogers gooi 'n plastiekfabriek in Factoria se vensters stukkend en word toe met 'n brandslang verdryf.

Lede van die metaalwerkersunie Numsa het Vrydag skade van nagenoeg R150 000 aangerig toe hulle die eiendom van ‘n plastiekfabriek beskadig het.

Hennie Meyer, eienaar van Strapping & Profile Manufacturers wat plastiekprodukte vir onder meer die landbousektor vervaardig, sê 48 ruite is gebreek en ‘n motor is beskadig toe stakers klippe na die gebou geslinger het.

Meyer het die ruite vervang en ook diefwering voor die ruite buite die gebou gesit vir wanneer die stakers weer sou probeer om die ruite stukkend te gooi. Hulle het ook ekstra versterkings by die drie hekke aangebring indien die stakers weer daaraan sou ruk.

Intussen is sy prokureurs besig om saam  met Solidariteit te werk om stakende Numsa-lede te verbied om in ‘n radius van 500 meter van hulle gebou te betoog.

Hy sê hulle gaan Numsa ook verantwoordelik hou vir die skade wat hulle lede se staking gely het.

‘Die slag van Barrattstraat’

4 July 2014

Dit is die slag van Barrattstraat.

Só beskryf Hennie Meyer, eienaar van Strapping & Profile Manufacturers in Factoria die atmosfeer toe sowat 300 lede van die metaalwerkersunie Numsa vroeg vanoggend voor hulle gebou betoog het.

'n Briesende Hennie Meyer, eienaar van Strapping and Profile Manufacturers in Factoria by 'n hopie van die klippe wat lede van Numsa na hulle gegooi het.
‘n Briesende Hennie Meyer, eienaar van Strapping and Profile Manufacturers in Factoria by ‘n hopie van die klippe wat lede van Numsa na hulle gegooi het.

“Ons produseer plastiek en het niks met die metaalindustrie te make nie,” verduidelik hy.

Dié onderneming vervaardig plastiekprodukte waarin kosprodukte verpak word vir onder meer Suid-Afrika se landbousektor .

Die brandslang waarmee die betogers verdryf is.
Die brandslang waarmee die betogers verdryf is.

“Ek het vanoggend vroeg ‘n oproep van my werknemers ontvang dat hulle (die betogers) voor die gebou se hek staan en moeilikheid veroorsaak.”

Meyer sê toe hy by die werk aankom en met van die lede probeer praat, het een ‘n stok deur die hek en teen sy nek gedruk en hom in Engels gewaarsku: “We will kill you” en aan die hek begin ruk.

Dit is toe dat hy opdrag gee dat die betogers met ‘n brandslang verdryf word.

“Hulle het toe klippe na ons gebou gegooi en sowat 30 ruite in die proses gebreek.”

Hy sê hulle het die polisie asook hulle sekuriteitsmaatskappy gekontak om bystand te verleen.

Een van die klippe wat deur die gebou se ruite gegooi is.
Een van die klippe wat deur die gebou se ruite gegooi is.

“My werknemers wil nie staak nie, hulle is bereid om te werk.”

Werknemers, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, het aan die news gesê dat hulle heel moontlik sou staak, maar dat dit onwettig sou wees.

“As ons sou uitgaan om te staak sal ons nie betaling of ‘n verhoging kry nie. Ons is in elk geval bang om nou uit te gaan, want hulle sal ons by die Luipaardsvlei-treinstasie kan identifiseer en viktimiseer.”

Meyer sê daar is reeds van sy werknemers wat tydens die betoging beseer is.

Heinrich Meyer, mede-eienaar van Strapping & Profile Manufacturers in Factoria wys waar 'n klip wat die betogers gegooi het, hom getref het.
Heinrich Meyer, mede-eienaar van Strapping & Profile Manufacturers in Factoria wys waar ‘n klip wat die betogers gegooi het, hom getref het.

“My seun en mede-eienaar Heinrich se hand is beseer en nog ander werknemers is met klippe teen die rug en kop getref.”

Verskeie voertuie is ook in die proses beskadig, verduidelik hy.

Die betogers het later weer teruggekeer soos hulle belowe het en met stokke gewapen voor die gebou gesing en gedans.

'n Werknemer en die polisie kyk na die skade wat deur die betogers aangerig is. Sowat 30 ruite is gebreek.
‘n Werknemer en die polisie kyk na die skade wat deur die betogers aangerig is. Sowat 30 ruite is gebreek.

‘n Motorband is aan die brand gesteek terwyl polisielede op die toneel bontgestaan het.

Kliek hier vir meer foto’s.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button