Pinehaven-kruising eis twee: raadslid eis optrede
Inwoners doen al sedert 2010 'n beroep op owerhede om die kruising te beveilig.
Amanda de Lange, VF Pus raadslid in Mogale City het onlangs haar kommer uitgespreek oor twee afsonderlike ongelukke by die Pinehaven-kruising wat binne 24 uur twee lewens geëis het.
“Mense sterf terwyl owerhede elke begrotingsjaar besluit om fondse eerder vir ander projekte aan te wend as om aandag aan kritieke kwessies te gee soos om ‘n noodsaaklike oorweg op te rig,” sê De Lange.
“Inwoners noem dié kruising al die ‘trappe na die Hemel se deur’ of ‘kruising van die dood’ weens die groot aantal noodlottige ongelukke,” sê sy.
De Lange noem dat die Pinehaven-kruising ‘n belangrike verbindingsroete tussen verskillende metrostede is.
Dit vorm ook ‘n hoofroete vir swaar afleweringsvoertuie vanaf Noordwes, Botswana, Namibië en die Noord-Kaap na Pretoria en noordelike gebiede van Johannesburg. Groot ontwikkelings soos onder andere Silverstar Casino en hoëdigtheid-woongebiede het al rondom die kruising opgeskiet. Die jongste mega-ontwikkeling is die Cradlestone-inkopiesentrum wat as die grootste in die Suidelike Halfrond beskou word. ‘n Hospitaal is ook tans in die Pinehaven-landgoed in aanbou.
Volgens De Lange het die verkeer die afgelope paar jaar geweldig toegeneem en styg dit steeds teen ‘n geweldige tempo vanweë die toename in ontwikkeling in en om die gebied.
“Inwoners het al meer as tien jaar gelede begin om druk op owerhede te plaas om ‘n oorbrug te bou omdat daar feitlik elke dag ‘n ongeluk op of rondom die kruising plaasvind,” vertel sy.
Swaar vragmotors, afleweringsvoertuie en taxi’s blyk die grootste oorsaak van ongelukke te wees omdat hulle bestuurders beheer oor hul voertuie verloor en dan tussen voertuie by die kruising inploeg.
“Die baan vir vragmotors en spoedbeheer-sandbaan teen die berg af bied nie genoegsame krisisbeheer of beveiliging nie. Statistieke bewys dat daar nie veel sukses hiermee behaal is nie aangesien heelwat van die ongelukke van al vier die rigtings na die kruising plaasvind en nie net teen die berg af nie,” sê De Lange.
“Die beloofde oorbrug wat ‘n drastiese afname in ongelukke en sterftes kan bied, is jare reeds op die ‘prioriteitslys’ van Gautrans maar dit is waarby dit bly. Daar was selfs sprake dat die oorbrug voor die Sokkerwêreldbeker in 2010 gebou sou word maar Gautrans het dit belangriker geag om eerder Malibongwe-rylaan op te gradeer in plaas daarvan om aandag aan die kritieke situasie by Pinehaven-kruising te gee” sê De Lange.
“Dit is tyd dat senior regeringsamptenare voor stok gekry word vir die voeteslepery wat reeds te veel lewens geëis het. Nie eens die petisies en pleidooie van familielede van slagoffers kon tot dusver enige reaksie of optrede van sowel Mogale City as die Provinsie ontlok nie” sê De Lange.
Op die vraag “wat volgende” sê sy dat die VF Plus die moontlikheid ondersoek om klagtes teen die betrokke owerheidsbeamptes te lê om hulle deur middel van die reg tot aksie te dwing. “Dit is egter ‘n aanklag teen elke publiek-verkose regeringsamptenaar as gemeenskappe geforseer word om die reg in te span om hulle tot verantwoording en aksie te dwing” sê sy.
