Wit plakker vertel van armoede
Louis Volschenk, 'n inwoner van Kroningspark moes self sy trots sluk en in Kroningspark, 'n wit plakkerskamp in Krugersdorp gaan woon nadat hy alles waarvoor hy gewerk het, verloor het.
Dit gaan swaar met die Afrikaner-volk.
So verduidelik Louis Volschenk, 62, een van die sowat 300 inwoners van Kroningspark wat teen 16 Desember sak en pak Munsieville toe moet trek. Hulle moet plek maak vir die beoogde R22 miljoen droompark.
“Ons is hartseer om te trek, maar ons het nie eintlik ‘n keuse nie.”
Volschenk sê dis oor regstellende aksie dat hy en soveel ander in armoede beland het.
“Die stres wat daarmee gepaardgegaan het, het veroorsaak dat ek en my vrou geskei het en ek het my huis verloor.”
Volschenk is meer as net nog ‘n wit plakker wat deur die samelewing as ‘te sleg om te werk’ gebrandmerk word. Met ‘n pastorale kursus agter sy naam was hy voorheen ‘n polisiebeampte.
“Ek het na skool, in 1968, by die polisie aangesluit waarna ek in 1975 by die weermag aangesluit het.”
Jare later het hy by die mynspeurtak as mynspeurder begin werk voordat hy na 15 jaar se diens afbetaal is.
“Ek het toe as sekuriteitsbeampte begin werk, maar het in 2003 klaargemaak en oorleef sedertien net op ‘n ongeskiktheidstoelaag wat vandag R1 350 per maand uitbetaal.”
Hy sê sy omstandighede het hom en sy tweede vrou gedwing om in die park te gaan woon.
“Daar het ek vir sewe jaar gebly voordat ek vir tien maande sekuriteitswerk in Port Elizabeth gekry het. Toe my kontrak daar verstryk het, is ek terug Kroningspark toe.
“Ek het geweet daar sal steeds vir my ‘n plek wees om te bly.”
Hy het twee kinders, waarvan een saam met sy eie gesin in die park woon.
“My ander seun is ‘n landdros van Houghton. Ek sien hom baie min omdat hy baie besig by die hof is.”
Op die vraag oor hoekom dié seun nie vir hom sorg nie, sê Volschenk, “Ek kon seker lankal in ‘n ouetehuis gaan woon het, maar hier voel ons almal soos familie.”
Hy sê by die Park gee almal vir mekaar om en skep elkeen self werk.
Die news kan bevestig dat die meeste van die bedelaars wat by die verkeersligte in die dorp staan dwelmslawe is wat geld van die publiek vra om hulle dwelmgewoonte te voed en nie Kroningsparkinwoners is nie.
“Die mense wat hier in die Park bly vertrou eerder op die Here om hulle deur die dag te dra. Ons is regtig baie geestellik en bid gereeld waar ons vir die Here bedank dat hy ons veilig in sy hande hou.”
Verwante artikels:
• Video: Wit plakkers nooi Zille vir koek en tee
• Wit plakkers trek: Raadslid sê Munsieville het goeie strukture in plek
• Video: Hof beslis: wit plakkers moet uit
