Bastion wedloop wéér ‘n wegholsukses
Die 1km Bastion-wedloop was so amper uitgestel toe die reën begin uitsak.
Etlike ure voor die jaarlikse Hoërskool Bastion Straatkilometer gehou sou word het organiseerders nog kopgekrap of dié 1km-wedloop nog gaan plaasvind.
Corneel van Dyk, Bastion se sporthoof het gesê die reën wat vroeër die dag in die dorp uitgesak het, het die senuwees behoorlik laat knaag.
“Die wedloop is ‘n jaarlikse instelling. Dit word op die eerste dag van die skooljaar gehou om die leerlinge die kans te gee om ‘n bietjie gees te vang, maar toe dit so reën het ons gedink dat ons die wedloop sal moet aanskuif.
“Gelukkig het dit reeds vroeg in die dag opgehou reën en die wedloop kon sonder enige vertragings voortgaan.”

Dit was duidelik dat die leerlinge van Bastion asook dié van laerskole baie na hierdie wedloop uitgesien het en spesiaal snaaks aangetrek het om gees te vang.
Verskeie Graad 8-leerlinge soos Lee-Ann Jansen van Vuuren het aan die news gesê dat die wedloop vir haar baie opwindend was en dat sy dit beslis volgende jaar weer gaan aanpak.
Corneel het gesê altesaam 363 wedlopers het aan vanjaar se verskillende kategorieë deelgeneem. Ouers en oudleerlinge het ook die kans gekry om hulle fiksheid te toets in die ope-kategorie wat vir enigiemand bo 19 en wat nie leerlinge van die skool is nie, bedoel is.

“Dit groei elke jaar en ons is tevrede, maar ons wil dit volgende jaar nog groter hê met meer deelnemers.”
Hy het gesê hulle oorweeg dit om die wedloop volgende jaar in die eerste week van Februarie te hou sodat leerlinge eers kan voel dat hulle heeltemal by die skool ingeskakel is.
“Ons wil ook kyk of ons nie dalk ‘n borg kan kry nie.”
Waarnemende skoolhoof, dr Hardus van Loggerenberg het die medaljes oorhandig aan die eerste drie wedlopers wat die wenstreep oorgesteek het.

Die eerste drie wenners (in volgorde) was soos volg in die volgende kategorieë:
• Laerskoolseuns: Adrian Roux, Juandre Gonsalves en JP Beyer
• Laerskooldogters: Sonique Basson, Nakita Olwage en Alissa Liebenberg
• Junior seuns: Barry Diedericks, Shaun Viljoen en Katlego Moabelo
• Junior meisies: Franzelle Mertz, Ashley Thoresson en Justine Pelser
• Senior seuns: Renier Voigt, Ruben Bothma en Ruan Botha
• Senior meisies: Cherize Olwage, San-Mari van Dyk, Dene Diedericks
• Ope-kategorie vir vroue: Junique Beyer, Anest Myburgh en Anso Bothma
• Ope-kategorie vir mans: Jaco le Roux, Johan en Mike Combrink
Vir nog foto’s, kliek hier.

