Plaaslike ster nou Romeo?
Krugersdorp se Ruan Wessels skiet tans filmtonele in die dorp.
Vreemde geel bordjies met pyltjies en die woorde Jou Romeo word die dorp vol gesien.
Die News se nuuskierigheid kon dit nie meer hou nie en het die bordjies al die pad na Hoërskool Monument gevolg waar Krugersdorp se eie filmster, Ruan Wessels, besig was om sy nuwe opkomende film te skiet.
Die News het die agentskap wat betrokke is vir die film se bemarking oor die nuwe film genader, maar hulle lippe is bot toe en wil glad nie enige sappige details oor die film verklap nie.
Ruan, wat verlede jaar by Hoërskool Noordheuwel matrikuleer het, het sy eerste jaar as skoolverlater afgeskop met ‘n reis na Amerika om te gaan skaatsplank ry.
Die vakansie na ‘n besige skoolloopbaan het vinnig tot ‘n einde gekom en Ruan het toe terug aan die werk gespring met die skiet van hierdie nuwe film.
Sy ma en bestuurder, Marietjie Wessels, het haar opgewondenheid met die News gedeel oor haar seun se heel eerste hoofrol.
Sy kon ook nie veel oor die film noem nie behalwe dat Ruan bitter koud gekry het met die skiet van ‘n toneel in Monnas se swembad in die middernagtelike ure van ‘n koue front wat die dorp onlangs getref het.
“Die een toneel was half een die oggend geskiet, en dit was bitter koud. Maar dit het nie vir hom saak gemaak nie, want hy is mal oor sy werk.”
Daar sal nog vir die res van hierdie week op Monnas se skoolgronde aan die film geskiet word.
Aanhangers sal dan angstig moet wag tot 23 Desember vir die uitreiking van Jou Romeo.
Lees meer oor Ruan:
• Ruan het vakansie op sy agenda
•Krugersdorp se Ruan in nuwe film te sien