‘Hoe later hoe kwater,’ lui die spreekwoord.
“Hoe meer Mogale City se bestuurslui ontken dat daar probleme met die munisipaliteit se betaalstelsel of altans -stelsels is, hoe meer stroom die klagtes oor foutiewe rekeninge in,” het Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid in Mogale City gesê.
“Inwoners leef permanent met ‘n swaard oor hul koppe. Al word rekeninge gerekonsilieer en foute reggestel, is die volgende maand se rekening weer foutief. Die bedrae op die rekeninge, sms’e en kennisgewings wat uitgestuur word, verskil drasties van mekaar.
“Inwoners se dienste word na willekeur afgesny. Die afsny- en heraansluitingsgelde word ook nie altyd op die sisteme reggestel nie. Volgens inwoners word hulle deur Mogale City geboelie want hulle weet nooit wanneer dienste weer afgesny gaan word of wanneer hulle dreigbriewe gaan ontvang nie.”
De Lange het vertel hoe sy sedert verlede jaar verskeie versoeke aan Mogale City se finansiële kantoor gerig het dat ‘n taakspan aangestel moet word wat slegs probleme hanteer. Hulle moet ook langer ure werk en Saterdagoggende beskikbaar wees. Dit gee werkende inwoners die geleentheid om hul foutiewe rekeninge reg te stel.
Mogale City is egter nie hiervoor te vinde nie, het sy gesê.
“Ek glo dit is omdat Mogale City besef dit is ‘n vrugtelose oefening solank die stadsraad twee betaalstelsels gelyktydig probeer bedryf en dus nie enige waarborge kan gee oor die integriteit van die inligting van maand tot maand nie.
“Vandat Mogale City se munisipale bestuurder, mnr Mashitisho en die bedryfshoof, mnr Mbulwa aangekondig het dat die BIQ-stelsel vervang moet word, het die kostes aan hofsake en lisensiegelde ongeveer R20 miljoen beloop. Die Comperio-stelsel wat vir R23 miljoen aangekoop is maar nooit gewerk het nie en die LIMMS-stelsel wat Comperio en BIQ moet vervang, het tot dusver omtrent R65 miljoen gekos. Dit beteken belastingbetalers in Mogale City moes al meer as R100 miljoen vir die munisipale bestuur se vrugtelose en verkwiste uitgawes opdok terwyl die BIQ sonder enige probleme die nodige dienste verrig het.
“Die Vryheidsfront Plus is in die proses om die kwessie van wanbestuur teen die betrokke amptenare by die Openbare Beskermer te registreer. Dit is belastingbetalers se reg dat die betrokke amptenare ontbloot word indien hulle aan enige wanpraktyke en nalatige finansiële bestuur skuldig is.”
Mogale City se woordvoerder is genader vir kommentaar oor De Lange se verklaring, maar die News het nog niks ontvang nie.
Lees verder:
Ratepayers to confront municipality
West Rand hunting ground for criminals
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
