Tuisonderrigsentrum maak deure toe na ondersoekspan snuf in die neus kry
Dit het glo gebeur nadat 'n bank se ondersoekspan wou uitvind hoekom een van hul jong werknemers 'n vervalste matrieksertifikaat het.
Elnet Snyman, die eienaar van die Braambos Leeruitkomssentrum – ‘n tuisonderrigsentrum – is weereens in die spervuur nadat die gespesialiseerde ondersoekafdeling van ‘n prominente bank haar begin uitvra het oor ‘n vervalste matrieksertifikaat wat in die besit van een van hulle jong werknemers is.
Snyman het die sertifikaat aan die werknemer uitgereik, maar volgens die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) het hulle geen rekord van die persoon se matriekuitslae nie.

Snyman se naam klink dalk bekend omdat die News in September 2013 die eerste keer oor haar leersentrum se doen en late verslag gedoen het. Die News is destyds deur twee bekommerde ouers gevra om Snyman se beweerde onwettige tuisonderrigsentrum oop te vlek, omdat hulle geglo het dat Snyman die ouers van die leerders by haar sentrum om die bos lei. Kort nadat die artikel gepubliseer is, is verskeie ondersoeke sowel as besoeke deur die GDO by die sentrum gedoen, maar Snyman het steeds met haar sake voortgegaan.
Lees die 17 September 2013 artikel hier: Onwettige bedrywighede of ‘n uitkoms?
Sake het egter op Maandag, 12 Februarie, ‘n drastiese wending geneem toe ouers ingelig is dat Snyman die sentrum se deure toegemaak het en volgens een ouer vir woedebestuur in ‘n inrigting in Kempton Park opgeneem is.
Dit het glo gebeur nadat die bank se ondersoekspan ‘n afspraak met Snyman gemaak het om uit te vind hoekom een van hul jong werknemers ‘n vervalste matrieksertifikaat het. ‘n Verteenwoordiger van die bank het glo by die sentrum opgedaag vir hul vergadering, maar is ingelig oor Snyman se ineenstorting en dat sy reeds weg is.
Op Woensdag, 14 Februarie is talle ouers na die GDO-kantoor in Krugersdorp se sakekern ontbied vir ‘n noodvergadering rakende hul kinders se toekoms.
‘n Ouer het aan die News vertel dat die GDO bewus is van Snyman se sentrum en dat hulle weet sy het werk en sertifikate vervals. Die GDO gaan nou help om die kinders in ander skole te plaas en daar is ook sielkundige hulp vir die ouers en kinders aangebied. ‘n Ander ouer het namens al die ouers ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak waarna hulle ingelig is dat Snyman se dogter besig was om die inhoud van sentrum op te pak.
Die dogter se pa, Snyman se eksman, het intussen die News ingelig dat sy dogter geensins besig was om die sentrum se inhoud op te pak nie. Sy het bloot van haar persoonlike items en dokumente verwyder.
Die News het probeer om Snyman vir kommentaar te kontak, maar alle kommunikasiekanale na haar loop dood. Verdere inligting sal gepubliseer word sodra dit aan die News beskikbaar gestel is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
