Departementshoof groet haar geliefde Noordskool
Na 14 jaar by Laerskool Krugersdorp-Noord het Departementshoof Carien Grobler en haar man, Millies-hoof Eugene Grobler besluit om saam af te tree.
Toewyding, liefde vir jou leerders en ‘n bereidwilligheid om die ekstra myl te stap vir elkeen wie se lewe jy aanraak kan ‘n onderwyser se plek in die harte en gedagtes van duisende mense oor talle jare heen verseker.
Carien Grobler is regoor die dorp bekend vir haar insette, harde werk en betrokkenheid oor die afgelope 14 jaar by Laerskool Krugersdorp-Noord.
Carien is in Florida in Roodepoort gebore waar haar pa ‘n predikant was voor die gesin vir ‘n ruk lank op verskeie plekke in die land gewoon het, maar later weer terug is Florida toe.
As student aan die Goudstadse Onderwyskollege het Carien ‘n jong man genaamd Eugene Grobler in die gange raakgeloop. Hy het inisiatief geneem, rondgevra en by ‘n ander student gehoor dat Carien op dieselfde vloer as sy in die koshuis gewoon het. Carien en Eugene is later getroud en albei het ‘n loopbaan in die onderwys gevolg.
Carien se eerste onderwyspos was by Laerskool Culembeeck in Witpoortjie waar sy in 1983 begin skoolhou het, totdat sy 14 jaar gelede by Laerskool Krugersdorp-Noord aangesluit het. Na drie jaar is sy tot Departementshoof vir die Grondslagfase bevorder.
“Die lekkerste vir my was om die studente-onderwysers op te lei. Jy het so ‘n bietjie van jouself vir hulle gegee. Van hulle hou nou hier skool,” het Carien verduidelik. “Ek het meestal seker gemaak dat die onderwysers se boeke, werk en dokumentasie reg was.”
Carien het ook vroeër jare minikrieket afgerig, jare lank Noordskool se koor begelei, en die Graad 1’s se opedae gereël.
Dis vir haar baie lekker as sy ‘n leerder na al die jare raakloop wat vir haar vra, “Hallo Juffrou, onthou juffrou my nog?”
“Ek gaan die personeel en die kinders baie mis. Hulle kruip so diep onder jou vel in en jy raak so lief vir hulle.”
Die leerders het eers op Dinsdag, 24 Augustus gehoor dat Juffrou Carien die volgende Vrydag sou aftree, wat ‘n paar trane veroorsaak het. Carien het wel vroeër vir die ouers laat weet dat sy weggaan maar glo dat dit nie regtig by die leerders ingesink het nie.
Carien en Eugene tree saam aan die einde van Augustus af – sy op 60 by Noordskool, en hy as hoof by Laerskool Millenium. Hulle het twee volwasse dogters en verwag binnekort hul eerste kleinkind. “Ons het nou meer tyd saam, en saam met die familie, en ons wil ‘n bietjie rondry. Ons het so ‘n lekker boswa gekoop en wil nou net inklim en ry.”
Quintin Botha, Noordskool se kommunikasiebeampte het gesê, “Almal in Krugersdorp het vir Carien geken. Ek glo sy het baie lewens aangeraak. Oudleerders wat al volwassenes is praat steeds van haar. Daar gaan ‘n leemte wees. Dit gaan baie vat om weer iemand te vind wat haar prominente spasie kan vul.”
