Local newsNews

Kom sê jou sê saam met Solidariteit

Solidariteit Helpende Hand Wes-Rand het onlangs landswyd 'n opname gedoen om die behoeftes in spesifieke gemeenskappe te bepaal.

Weens hul betrokkenheid by ‘n verskeidenheid omgewings- en ontwikkelingsprogramme is Solidariteit reeds in elke dorp in die land bekend.

Op Woensdag, 25 Augustus het die organisasie ‘n inisiatief landswyd geloods om te bepaal hoe hulle mense beter kan help.

Solidariteit Helpende Hand Wes-Rand en Vaaldriehoek is een van talle bene van die Solidariteit Beweging, maar funksioneer as ‘n onafhanklike entiteit. Hulle het as deel van die inisiatief ‘n stalletjie by hul Ons Winkel in Rustenburgweg in Krugersdorp-Wes gehad waar hulle verbygangers gevra het om ‘n vorm te voltooi oor die behoeftes wat hulle ervaar.

Mariette Hartley, Mariette van de Werken en Bionita Mienie werk by die opnamestalletjie. Foto: Jaco Human.

Mariette van de Werken, Helpende Hand Wes-Rand-takvoorsitter het verduidelik dat hul doel met die opname was om ‘n duideliker en akkurater idee te kry van wat die gemeenskap nodig het, en om deur hul oë na hul probleme te kyk sodat hulle projekte met ‘n groter impak kan loods en werkskepping kan bevorder.

“Die analise word vandag deur die hele land gedoen. Die mikpunt is om 8 500 mense te bereik en ons het teen 11:00 op 30% gestaan.” Hulle het wel hul doel daardie dag teen 20:00 bereik.

Helpende Hand se hoofdoel is juis gemeenskapsontwikkeling, en Ons Winkel is een van die maniere om geld- en itemdonasies in te samel. Enige klere, meubels en ander goedere wat aan hulle geskenk word, word verkoop, en die wins word gebruik word om hul gemeenskapsprojekte te finansier, of dit word direk aan persone geskenk waar daar ‘n tekort is. Dit word ook in die studiefonds inbetaal vir studente wat nie hul studies kan finansier nie.

Ons Winkel vra dat die gemeenskap enige goedere wat hulle nie meer gebruik nie en onnodig plek opneem aan die winkel sal skenk.

Diegene wat aan die opname wil deelneem kan steeds die vorm invul by https://form.jotform.com/211112564563549.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button