Siekte kry Zani nie onder
Daar is medikasie wat Zani kan help, maar dit kos om en by R60 000 per maand. Daar is nou 'n trust gestig om hulle te help om dit vir haar te koop.
Lag, dans en oefen. Dit is maar net ‘n paar van die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.
Zani Brits ly haar hele lewe al aan sistiese fibrose (SF) en nou amper 34 jaar later is daar niks wat medici in Suid-Afrika vir haar kan doen nie. Maar daar is hoop … dit is net baie duur.
Wat sal ‘n pa nie vir sy kind doen nie?” het Herman Smit gevra het toe hy die News vertel het van sy dogter, wat vroeër dié jaar in die hospitaal opgeneem is met net 26%-longkapasiteit.
Dokters het daarna vir Zani gesê dat daar geen medikasie in die land beskikbaar is wat haar sal kan help nie. Haar man, Hennie Brits, met wie sy nagenoeg nege jaar getroud is, het verduidelik dat haar liggaam weerstand opgebou het teen die beskikbare antibiotika.
“Dit wat sy gebruik kan haar nie meer genees nie, maar is bloot onderhoudend,” het hy verduidelik.
SF is ‘n oorerflike siekte wat die eksokriene kliere aantas. Dit veroorsaak dat die ligaam abnormale dik slym produseer en wat die pankreaskanale, ingewande en bronchi blokkeer.
Zani het op haar ouers se sitkamerbank gesit en vertel van haar siekte en haar lewe. Sy het eers in Nigel gewoon en haar familie het Krugersdorp toe getrek net voor sy met graad 1 begin het. Sy was in Laerskool Kenmare en later in Hoërskool Noordheuwel. Hoewel sy reeds op twee jaar met die siekte gediagnoseer is, het Zani vertel dat sy nooit toegelaat het dat SF haar verhoed om iets te doen nie. Sy het aan netbal, verspring en gewigstoot deelgeneem.
So ses jaar terug het sy sieker geword en moes drie jaar gelede ophou werk. Sy het wel onlangs weer begin uithelp by haar ouers se naskoolsentrum en het vertel dat dit lekker is om weer met die kinders te werk en besig te wees.
My dag is heel normaal; ek werk, ek is ‘n ma en ek is ‘n vrou. My grootste struikelblok is om te besluit wat om vir aandete te maak,” het sy laggend vertel.
So sterk soos Zani is, behels haar dag tog ‘n bietjie meer. Op haar webstuiste www.lungs4zani.co.za verduidelik sy dat sy twee keer ‘n dag nebuliseer, 25 tipes kroniese medisynes drink, daagliks fisio en asemhalingsoefeninge moet doen, 30 eenhede insulien gebruik, hoesbuie kry, en elke dag moet probeer positief bly. Wanneer sy slaap is sy aan ‘n suurstoftenk gekoppel, maar het vertel dat sy deesdae al hoe meer deur die dag suurstof moet gebruik.
Sy sukkel om meer as vyf uur se slaap te kry. Hennie het verduidelik dat sy vrou die SF kan hanteer maar dan kom die lewe ook nog by.
“Sy lyk altyd netjies en reg, daarom sukkel mense om te verstaan hoe siek sy is want sy lyk goed,” het hy vertel.
Behalwe vir lag wil Zani ook graag weer ‘n hele liedjie van begin tot einde deurdans. Haar suster trou in Junie en Zani hoop om daar te kan dans. Sy hou ook baie van oefen en doen dit as sy gesond genoeg is.
Daar is medikasie wat Zani kan help, maar dit kos om en by R60 000 per maand. Haar pa, ma en Hennie het nou ‘n trust gestig om geld in te samel sodat hulle vir Zani die medisyne van Argentinië af kan bestel. Dit kan help dat Zani glad nie meer hoes nie en kan ook ander simptome verlig.
Die familie het reeds R200 000 ingesamel en drie maande se medisyne bestel.
Op Woensdag 25 Mei het Laerskool Kenmare, Laerskool Protearif, Kennies Keuterskool en Hoërskool Noordheuwel pers aangetrek om Zani te ondersteun. Die familie het plakkers teen R20 elk verkoop en dan kon die kinders gewonde klere skool toe aantrek. Laerskool Muldersdrif, Laerskool Roodekrans en Protie Kleuterskool het ook donasies gemaak om Zani te help.
Hulle wil graag ander besighede en skole vra om ook by die plakkerprojek betrokke te raak want, het Zani vertel, as hulle genoeg geld insamel kan sy dalk ander SF-lyers ook help.
Hulle beoog ook om 1 000 mense te vra om elke maand net R100 per diebietorder by te dra. So kan hulle die projek volhoubaar maak en hopelik ander mense ook help om die regte hulp en medisyne te kry.
Jy kan meer oor Zani lees en met die familie in verbinding tree deur middel van hul webtuiste www.lungs4zani.co.za.
