Municipal

‘Behuisingsontwikkeling in Tarlton net nog ‘n mislukking’

Opposisie party kap regerende party oor elektriese pomp wat Brickvale se riool 16km ver na die Percy Stewart-werke moet pomp, buite werking is.

Die VF Plus in Mogale City sê die omstrede Brickvale-behuisingsontwikkeling in Tarlton is nog ‘n voorverkiesingsbelofte van die regerende party wat misluk het.

Volgens die VF Plus se Amanda de Lange, wie ook ‘n lid van die Gautengse provinsiale regering is, word inwoners van Tarlton daagliks gekonfronteer met die reuk van riool vanaf dié behuisingskompleks.

Sy sê die elektriese pomp wat Brickvale se riool 16km ver na die Percy Stewart afvalwaterbehandelingswerke moet pomp, is buite werking en indien dit wel herstel word, word die elektriese komponente gesteel.

“Riool word tans herlei na ‘n reuse gat wat nie net aanleiding gee tot ‘n onaangename reuk nie, maar ook ‘n gevaar vir inwoners en veral kinders inhou wat in die omgewing speel. Brickvale is boonop op dolomietiese grond gebou en die rioolgat kan binnekort tot ‘n sinkgat lei. Daar is ook nagelaat om die grond te hersoneer van landbou-doeleindes na ‘n dorpsontwikkeling.

“Bewoningsertifikate kan nie uitgereik word nie aangesien die vereiste bouregulasies rondom dorpsontwikkeling nie gevolg is nie en ‘n wesenlike brandgevaar bestaan weens die feit dat wooneenhede nader as die vereiste afstand van mekaar gebou is. Die interne water- en sanitasie netwerk is nie voldoende nie en daar is ook nie rekening gehou met die reeds beperkte kapasiteit van die rioolwerke nie.

• Lees meer hier: Mogale’s sewer pump nightmare: Municipality to take action

De Lange noem dat hulle reeds vrae aan die LUR vir menslike nedersettings rakende die aankoopbedrag van die eiendom, gerig het. Sy noem dit beloop miljoene terwyl die munisipale waardasie baie minder was ten tyde van die transaksie.

“Ons sal ook ‘n klag oor dié ontwikkeling en die gevaar wat dit vir inwoners inhou, by die Menseregtekommissie indien en die Openbare Beskermer versoek om dit te ondersoek.

“Inwoners byt die spit af. Dié projek was met sy aanvang voor die 2021-verkiesing deurspek met korrupsie en wanbestuur. Ons lê die probleme met die ontwikkeling vierkantig voor die deur van die Mogale City regering en die Gautengse Departement van Menslike Ontwikkeling,” het De Lange afgesluit.

Die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Refilwe Mahlangu het onlangs gesê die Brickvale-nedersetting se pompstasie is op ‘n lang lys van ander pompstasies wat herstel gaan word en wat instandhouding benodig.

“Alhoewel dit deel vorm van die behuisingsontwikkeling wat tans gebou word, is hierdie pompstasie ook op die lys van nie-funksionele pompstasies in die stad, as gevolg van vandalisme nadat die pomp en elektriese komponente gesteel is. Aangesien die werk gekoppel word aan die residensiële konstruksie vir die woongebied, die kontrakteur vir die nodige herstelwerk is reeds op die perseel en sigbare vordering word gemaak met slykverwydering. Die pomp behoort teen einde Mei ten volle herstel, getoets en in werking te wees. Sodra dit voltooi is, sal die pompstasie formeel aan die departement van infrastruktuurontwikkeling oorhandig word vir toekomstige instandhoudingswerk,” het Mahlangu gesê.

 
Back to top button