Local newsSport

‘n Driedubbele wêreldkampioen in skopboks – en sy is maar net 17

Die Monnas-leerder staan as Gypsy Beast bekend in die skopboks ring en sy het drie wêreld titels wat verduidelik hoekom.

Chloe Assad, beter bekend as Gypsy Beast binne die kryt, het teruggekeer uit die Verenigde Koninkryk met drie wêreldtitels in skopboks.

Baie mense oefen hul lewe lank om net aan die Wêreld Skopbokskampioenskappe deel te neem maar vir die 17-jarige Hoërskool Monument leerder het skopboks as ‘n tweede natuur gekom.

Dit was verbasend iets wat sy aanvanklik net vir oefening wou doen. Sy het vertel dat sy in 2021 ‘n klub gesoek het om by aan te sluit om fiks te word en bietjie gewig te verloor maar nadat sy by die Triple Threat Dojo aangesluit het, het sy besluit dat sy ook aan kompetisies wil deelneem.

In Februarie 2022 het sy aan haar eerste kompetisie deelgeneem en van daar het sy net aanhou presteer. Nie net het sy aan verskeie kompetisies deelgeneem nie maar het meeste gewen en as sy nie gewen het nie was sy beslis tweede.

Chloe Assad by die Wêreld Skopbokskampioenskappe. Foto ingestuur.

In Junie vanjaar was sy juis gekies om Suid-Afrika by die World Kickboxing Organisation se Ope Wêreldkampioenskappe in Barnsley, Londen te gaan verteenwoordig.

Sy het ook haar presidents kleure ontvang en in Londen het sy die titels van wêreld kampioen in skopboks, wêreld kampioen in die lae-skop (ligte afdeling) en die wêreld kampioen in die lae-skop afdeling verower. Sy het dit amper gemaak in die ligte kontak skopboks afdeling maar het die silwer medalje huis toe gebring.

Chloe is eerste in die wêreld vir vroue veergewig lae-skoppe (female featherweight low kick), vierde in die wêreld vir vroue veergewig ligte kontak skopboks (female featherweight light contact kickboxing), vyfde in die wêreld vir vroue veergewig skopboks en die SA-span het vyfde uit 15 lande, vyfde uit 103 klubs en 37ste uit 500 deelnemers geëindig. Hulle het drie goue medaljes en een silwer huis toe gebring.

Chloe Assad is ‘n driedubbele wêreldkampioen. Foto: Nicola Jansen van Vuuren.

Al het sy aanvanklik aan semi-kontak deelgeneem, het sy oorbeweeg na vol-kontak omdat sy nie kan of wil terughou nie. Sy oefen partykeer vyf dae ‘n week en het vertel dat sy die sport geniet omdat dit haar adrenalien laat pomp. Sy geniet ook om van elke opponent en deelnemer te leer ken en het vertel dat elkeen ‘n ander styl het.

“Hulle motiveer ons by die klub met hulle ondersteuning en ons ouers is altyd daar en trots op ons.”

Skopboks het haar geleer om haarself te kan verdedig, haar gehelp met dissipline en om op skool te fokus.

“As jy van skopboks hou gaan doen dit al vat dit ‘n rukkie om aan te leer. By jou eerste toernooi gaan die gogga jou byt.”

Chloe het nog so paar toernooie waaraan sy die jaar gaan deelneem en is ook uitgenooi na Italië om aan die Unified World Championships in Carrara deel te neem.

Om ‘n wêreld skopbokskampioen te wees is nie goedkoop nie en haar familie hoop dat hulle binnekort ‘n borg vir Chloe sal vind sodat sy nie ‘n geleentheid hoef te mis nie en die kans kry om haar skopboks drome te laat bewaarheid.

Sy wil graag vir haar ouers, afrigter, span, vriende en haar skool baie dankie sê vir hulle ondersteuning en liefde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button