Local newsSport

Dankie, William Web Ellis!

Rugbykoors loop hoog met die 2023 Rugbywêreldbeker om die draai. Die Herald/ News/ Record/ Northside het bietjie gaan kyk na rugby se ontstaan, die aantal Springbokke wat deur plaaslike Wes-Rand skole opgelewer is asook die ontwikkeling van rugby op skoolgebied.

Hulle sê ‘n jong man met die naam van William Web Ellis het in 1823 ‘n sokkerbal opgetel, begin hardloop en net daar is rugby gebore.

Die eerste erkende internasionale toets is wel eers in Maart 1871 tussen Engeland en Skotland gespeel maar in 2023 vier World Rugby al reeds twee eeue van die gewilde sport. Hul voorsitter, Bill Beaumont, moedig juis belangstellendes aan om die spel aan te neem en vra dat liefhebbers die sport koester.

Boonop en met die 2023 Rugbywêreldbeker in Frankryk wat op 8 September afskop, loop die rugbykoors deesdae hoog. Die Herald/ News/ Record/ Northsider het dus bietjie gaan kyk na rugby se geskiedenis, watter Wes-Rand skole almal Springbokke opgelewer het en meer.

‘n Seun gaan druk ‘n drie vir Monument Primary.

Rugby-ghoeroe en redakteur van die News/ Herald Clinton Botha het gesê, “Soos enige sport is sekere lande natuurlik beter as ander en een naam is veral bekend in rugby – die All Blacks. Daar is rugby ‘n geloof soos hulle sal sê maar selfs hier in Suid-Afrika is rugby massief, só groot dat families gereeld hul naweke rondom rugby sal beplan. Elke seun moet ook aan rugby deelneem want dit is mos … ‘In ons bloed’. Of jy nou rugby speel of nie, ons is almal betrokke by die sport op een of ander manier. Jou seun is dalk goed daarin of, jou seun se vriend se ouers nooi julle Ellis Park toe, of jou dogter trou dalk met ‘n Blou Bul of iemand in die familie en vriendekring is so behep met rugby dat wanneer jul braai en kuier word daar net oor rugby gepraat of gekyk. “

Suid-Afrikaanse rugby geskiedenis:

Die South African Rugby Board (SARB) is in 1889 gestig. Die Springbokke se eerste amptelike en erkende internasionale toets was eers in Julie 1891 in Port Elizabeth teen die Britse Leeus. Die Bokke het wel 4–0 verloor. Dit het SA verbasend vyf jaar geneem (tot 1896) om hul eerste toetswedstryd te wen. Dit was ook teen die Britse Leeus waar die Bokke 5–0 geseëvier het. Die Britse Leeus het steeds die reeks 3–1 gewen maar interressant het dit hulle 78 jaar hierna gevat (tot 1974) om weer ‘n reeks in Suid-Afrika te beklink. Die Springbokke tesame met Nieu-Seeland is die mees suksesvolste rugbylande op aarde en spog hulle met drie Wêreldbeker-titels elk. En wanneer hulle mekaar op die rugbyveld pak word dit as ‘n rugbyskouspel beskou, asook die grootste derby in die sport.
• Bron: The Encyclopedia of Rugby Union/ Donald Sommerville/ 1997

Jean Botha van Laerskool Helderkuin snol by die kantlyn af met ‘n verdediger kort op sy hakke.

Die Wes-Rand se Bokke:

Daar is natuurlik ‘n trotse rugbytradisie op die Wes-Rand wat Roodepoort, Krugersdorp en Randfontein insluit met ‘n hele paar Springbokke wat uit verskeie plaaslike skole opgelewer is. Een hoërskool spog met nie nét die meeste nie, maar word ook beskou as ‘n top rugbyskool in Gauteng.

• Hoërskool Monument High School – Jaque Fourie, Jorrie Muller, Christo Wagenaar, Brendan Venter, Heinke van der Merwe, Willem Alberts, Julian Redelinghuys, Ruan Dreyer en Jaco Taute. Gert Peens het vir Italië se nasionale rugbyspan uitgedraf
• Bekker – Piet Botha, Dave Frederickson, Johan Strauss en Marco van Staden
• Florida – Wahl Bartmann, Elton Jantjies en Joseph Dweba
• Roodepoort – Adriaan Richter en Fritz van Heerden
• Bastion – Rudy Paige
• Krugersdorp High School (KHS) – Jan Lotz
• Jan de Klerk – Fanie Kuhn
• Randfontein High School (RHS) – Alf Walker
• Riebeeckrand – Lofty Nel
• Jan Viljoen – Johnny Buchler

• Bron: South African Schoolboy Rugby (2008) & www.genslin.us

Daar is geen tekort aan passie op die vlak nie.

Rugby op die Wes-Rand:

Die afgelope paar jaar is verskeie TAU-, jeug-, mini- en TAG-rugbywedstryde regoor die Wes-Rand gespeel en het die Herald/ News/ Record/ Northsider spelertjies van plaaslike skole en selfs klubs op kamera vasgevang en eerstehands gesien hoe die lus vir rugby onder die o6 tot o8-mannetjies geprikkel word.

Tydens Laerskool Muldersdrif se jaarlikse mini-sport dag vanjaar was daar meer as 360 rugbyseuns in aksie en die skool se TAU-rugby organiseerder Mathew du Toit het verduidelik dit word Tau-Rugby genoem, maar ander ken dit ook as bulletjie- of welpierugby.

“Tau-Rugby is ‘n sport waar seuns van respek, spanwerk, karakterbou, konsentrasie, kompetisie en genot kan leer. Ons streef daarna om die seuns maksimaal betrokke te kry en geleenthede te bied om met die bal te speel en om sy individuele vaardighede te ontwikkel en die basiese beginsels van rugby te verstaan sodat die leerder vinnig en doeltreffend kan aanpas sodra die geleentheid vir 15-man rugby voor kom.

“Dit is verseker ‘n feit dat almal in die lewe wat nog ooit sukses bereik het ook net iemand was wat probeer het. Daar is geen persoon wat ‘n oggend kan wakker word en die beste was in enige iets sonder om eers baie hard te werk en baie jare te oefen nie. Tau-Rugby is verseker die begin van baie Springbokke en professionele rugbyspelers se rugby-loopbaan omdat dit die ideale geleentheid is om die spelers se passie vir die sport te ontwikkel.”

‘n Protie-speler het talle verdedigers om hom.

Khosa Rugbyklub:

Khosa Rugbyklub voorsitter Pieter de Villiers het gesê, “TAU-rugby gaan daaroor om die ouens so vinnig as moontlik in die spel te kry en samehorigheid te kweek. Vir ons as ‘n klub is dit belangrik om ou rugbytradisies aan die lewe te hou. Nie elke ou gaan ‘n Springbok word nie maar die sport het ‘n manier om die seuns op te voed. Elke kind moet behandel word soos ‘n superster. Die pelle wat jy maak … rugby het net ‘n manier om vriendskappe te smee.

“As voorsitter is dit belangrik om outjies betrokke te kry. Ons probeer ‘n tipe mentaliteit kweek dat jy dit vir die pret doen. Jong seuns is te maklik op die fone. Ons probeer om hom in ‘n spanverband te kry, aktief te wees. Enige sport, spesifiek rugby, berei jou selfs voor vir die stampe en stote in die lewe; dit leer jou hoe om te wen en te verloor.

Dandre Kleynhans, CJ van Staaden en Duan Meintjes van Khosa. Foto: Elria Lennon

“Nie elke Springbok het by TAU-rugby begin nie maar dit het ‘n plek. Dit het basies destyds ‘tuinrugby’ vervang. Waar ons vier ure lank in die erf gespeel het, is TAU-rugby meer georganiseerd en gestruktureer. By Khosa is afrigting belangrik en as jy ‘n jong outjie op ses-, sewe- en agtjarige ouderdom reeds die regte vaardighede kan leer, kan dit die grondslag lê vir later. Hoe vinniger hoe beter.

“Rugby en veral jeugrugby het onsettend goed herstel na Covid. Ek dink dit het mense laat besef dat daar belangriker dinge is in die lewe en dat ons elke dag voluit moet lewe asof dit ons laaste mag wees. Covid het wel baie jong seuns beroof van ten minste twee jaar se rugbyontwikkeling en ek dink almal se doelwit, veral by Khosa, is om die verlore tyd in te haal en agterstand uit te wis.”

• Navrae: Belangstellendes kan Khosa skakel by 011 954 0597 of hul Facebook-blad BUCO Honeydew Khosa Rugby Club besoek.

‘n Seun van Monument Primary breek deur ‘n gaping.

Oor TAU-Rugby:

Louis Britz, wat op die Goue Leeus Laerskole Rugby Unie (GLLRU) se dagbestuur dien, het verlede jaar oor die geskiedenis van TAU- en TAG-rugby gesels en die junior strukture van die GLRU verduidelik.

“TAU-rugby (Zulu-woord vir welpie/ leeu) is die amptelike naam nadat dit eers welpierugby genoem is. Dit is ‘n afstammeling van minirugby wat in 1970 in Engeland ontwikkel is om jonger spelers aan rugby bloot te stel. Elke land het sy eie formaat van minirugby aangepas en in SA is daar in die laat 90’s besluit om daarmee te begin. Elke unie het ook sy eie formaat van die spel, en almal se reëls is nie presies dieselfde nie.

“In die vroeë 2000’s het die skole in die Leeus-streke die Valke (Valkie-rugby) se minirugby begin speel. In 2007 is met welpierugby in die Leeus-streke begin, en meer skole het daaraan begin deelneem. In 2008 het dit ‘n amptelike been van die Goue Leeus Laerskole Unie geword, en die naam is toe verander na TAU-rugby wat gebaseer is op die Blou Bulle Rugby Unie se Bulletjie-rugby. Van daar af het dit gegroei tot ‘n unieke spel,” het Britz verduidelik.

TAG-rugbyspelers het Velcro-bande om hul lywe waaraan linte aan hul sye geheg word. Aangesien volle kontak nog nie vir die kleintjies beskore is nie, pluk spelers hul opponente se linte af in plaas daarvan om hulle te lak.

“Dié vorm van die spel is in die 1980’s in Gibraltar ontwikkel omdat daar nie grasvelde was nie. Matrose wat die spel daar gespeel het, het dit toe in Engeland laat posvat. Nick Leonard, ‘n Lewensoriëntering-onderwyser het reëls vir TAG-rugby in 1990 ontwikkel en die eerste toernooi is in 1991 gehou. Dit is later vir die o6-seuns gebruik om kontak te vermy. Ons o6-seuns speel tans TAG, en die o7’s en o8’s speel TAU (kontak). Daar is om en by 200 skole in die Leeus-streek wat aan TAU-rugby deelneem.”

Oor die strukture het Britz gesê, “Die junior afdeling van die GLRU word deur die GLLRU bestuur. Skole neem deel aan TAU-rugby en is meestal ouergedrewe, maar dis nie verpligtend nie. Daarna speel die o9’s, o10’s, o11’s, 2des (o12’s en o13’s) en die eerstes volle 15-man rugby met reëls wat aangepas is vir laerskole. Daar is provinsiale spanne vir o12- en o13-seuns, wat dan in die Junie-vakansie aan provinsiale toernooie deelneem, net soos die hoërskole se spanne.”

Doelwitte van TAU-Rugby:

• Om jong seuns ‘n voorsmakie van 15-man rugby te gee
• Om basiese rugbyvaardighede te ontwikkel
• Om ‘n passie vir rugby te ontwikkel
• Om selfvertroue met vaardighede te ontwikkel
• Deelname eerder as wenmotief
• Ouer betrokkenheid, veral op afrigtings- en skeidsregtersvlak
• Om alle spelers, ongeag hul vaardighede kans te gee om te speel
• Span in plaas van die individu
• Individuele ontwikkeling van spelers

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button