Local newsSport

Klein Faf ondersteun vir groot Faf!

'Hy is mal oor rugby en as jy vra wie hy is, dan sê hy Faf de Klerk' – Ma van tweejarige Zion Baylen Vrey.

Faf de Klerk, die gewilde Springbok-skrumskakel het kort na sy span se Wêreldbeker-oorwinning in Japan in 2019 opspraak gemaak toe hy nogal met sy landsvlag-onderbroek die blad skud van Prins Harry van Engeland.

Dit het vir ou Faffie oornag ‘n internet-sensasie gemaak en terwyl die video van die geleentheid soos ‘n veldbrand versprei het, het dit sekere Suid-Afrikaners aangesteek om dieselfde te doen.

Een brawe jong man, die tweejarige Zion Baylen Vrey van Protie Kleuter Akademie, het duidelik gewys wie hy ondersteun kort voor die Springbokke hul 2023 Wereldbeker-veldtog in Frankryk op 10 September begin. Sy ma, Veronique Vrey, het die foto van haar seun in sy Faf-speedo, hemp, rugbybal en Crocs met die Krugersdorp News gedeel en gesê die spesifieke foto was vir sy beroepsdag by sy skool geneem.

Klein Zion het natuurlik as niemand anders as Faf de Klerk gelyk nie, van kop tot toon.

“Hy is mal oor rugby en as jy vra wie hy is, dan sê hy Faf de Klerk. Hy is ongelukkig nog te jonk om rugby te speel maar hy gaan definitief speel sodra hy kan, hy glo hy het die talent. Ja, hy het die hare, die houding en lyk soos Faf. Hopelik speel hy ook so goed een dag,” het Veronique gesê.

Met rugbykoors wat hoog loop in die hele land en dorp is die Vrey-gesin natuurlik bankvas agter die Bokke.

Hul boodskap aan Rassie en Siya-hulle is, “As julle speel soos julle teen die All Blacks gespeel het, het julle ‘n goeie kans. Maar bly nederig en bring die beker weer huis toe!”

Wys só jou ondersteuning:

Wys jou ondersteuning vir Siya, Eben en die res van die Bokke deur aan of ons Caxton4Bokke-uitdaging deel te neem, ‘n Bok-trui op Vrydae te dra, met Springbok-horings rond te loop of selfs ‘n onderbroek te dra met die SA-vlag op … net soos Faf. Die Caxton-uitdaging is waar skole mekaar moet uitdaag met ‘n oorlogskreet op TikTok met die hashtags #StrongerTogether en #Caxton4Bokke. Stuur dan jou unieke foto met ‘n Springbok-trui aan, horings op jou kop of Faf se look na krugersdorpnews@caxton.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button