Nories beeld die reënboognasie as die landsvlag uit!
Nories het tydens hul Erfenisdagvieringe die asems laat wegslaan deur die landsvlag op die sportveld uit te beeld.
Laerskool Krugersdorp-Noord het op hul eie unieke manier Erfenisdag gevier en gewys hulle is trotse Suid-Afrikaners deur die landsvlag in al sy skakerings uit te beeld.
Lees ook: Sweef soos ‘n Arend: Noordskool onthul pragbeeld
Dit was inderdaad ook nie ‘n doodnormale vlag wat wapper nie, eerder ‘n pragkoördinering op die veld waarby die hele skool se kinders betrokke was.
Die oomblik is per lugfoto vasgevang deur een van studente-onderwysers, Jacques Oosthuyzen.

Volgens departementshoof Quintin Botha het elke graad ‘n kleur van die vlag uitgebeeld, naamlik geel, swart, blou, groen, rooi en wit – die tipiese kleure waarvoor ons land Suid-Afrika as die reënboognasie staan.
Die atmosfeer op die veld toe ons die vlag vorm was so lekker! Hulle is almal trotse Nories en Suid-Afrikaners. Ons het vooraf een oggend vir hulle in die saal op die skerm gewys hoe ons die vlag sou uitbeeld en hulle het sommer begin skreeu en hande klap.”
Dit was nie die eerste keer dat Nories so ‘n kreatiewe massa-uitbeelding doen nie. Verlede jaar met Hemelvaart het hulle ook die asems laat wegslaan toe hulle ‘n groot kruis uitgebeeld het.



“Ons beplan al sedert Junie hieraan. Dit moet noukeurig met al die personeel en die verskillende grade gekoördineer word. Ek en Wessel Lotter, ook ‘n departementshoof, is verantwoordelik vir dié tipe projekte en die koördinering daarvan. Ons het ook baie talentvolle personeel wat met idees vorendag kom en help met die formasie.
Ek dink kinders moet Erfenisdag fisies sien om werklik die dag se doel te verstaan. Ons hoop om elke jaar iets op Erfenisdag te doen wat die kinders sal onthou.”


