Afrikaans in die Wolke: Maak gereed vir groot gemeenskapsfees!
Tussen 6 000 en 7 000 feesgangers word Saterdag by Hoërskool Noordheuwel verwag vir Afrikaans in die Wolke, met ’n groot musiekprogram en vermaak vir die hele gemeenskap.
Hoërskool Noordheuwel maak gereed om Saterdag, 12 September, duisende mense vir ’n dag van Afrikaanse musiek, kultuur en vermaak op sy terrein te verwelkom.
Afrikaans in die Wolke is vanjaar deel van die skool se 45ste verjaardagvieringe en sal na verwagting tussen 6 000 en 7 000 mense lok.
Die hekke open om 08:30, met die eerste musiekoptrede om 10:30 wanneer Bernice West die verhoog betree. Bok van Blerk volg om 12:00, Steve Hofmeyr om 13:30 en Snotkop om 15:00.

Die middag- en aandprogram sluit verder optredes deur G-String om 16:30, Early B om 18:00 en Zaan Sonnekus om 19:30 in.
Volgens Norie-bemarker Sonet Guy is vanjaar se fees besonders omdat dit met die skool se 45ste verjaardagvieringe gekombineer word.
“Ons sien uit vir die gemeenskap om die dag saam met ons te kom geniet en dié spesiale 45ste verjaardag en fees saam met ons te vier,” sê Guy.
Benewens die musiekprogram kan feesgangers ook ’n pretpark en die sogenaamde Wolkemark geniet, met talle ander vorme van vermaak wat vir die dag beplan word.

Vir dié wat nog nie kaartjies gekoop het nie, sal kaartjies ook by die hek beskikbaar wees.
Norie-hoof Dawie Kriel beklemtoon dat die geleentheid nie net ’n Noordheuwel-fees is nie, maar ’n fees vir die breër Krugersdorp-gemeenskap.
Kyk die video hier:
@caxton.jhbwest Hoërskool Noordheuwel se skoolhoof, Dawie Kriel, vertel waarna die publiek kan uitsien by Afrikaans in die Wolke op Saterdag, 12 September. Die fees beloof ’n dag vol musiek, kultuur, optredes en vermaak vir die hele gemeenskap. #fyp #hoërskoolnoordheuwel ♬ original sound – Caxton JHB West
