
Graag wil ek as inwoner van Krugersdorp op die berig, A dumpsite for a suburb – everyone’s problem reageer wat in die 8 November-uitgawe van die News verskyn het.
Ons as gesin wil duidelikheid kry oor die prosedure rakende die wettige storting by die Krugersdorpse stortingsterrein.
By meer as een geleentheid waar dit nodig was om vullis te gaan stort, was daar die volgende probleme:
1. As jy by die stortingsterrein aankom, veral oor ‘n naweek, word daar vir jou water-en-ligterekening gevra.
2. As jy die volgende keer gaan, dan word gesê, “You can go”.
3. As jy weer daar kom, moet vorms ingevul word met die registrasienommer van jou voertuig. Soms gebruik mens ‘n ander voertuig, hang af van wat jy stort, of dit is ‘n voertuig wat jy geleen het om gou iets weg te ry.
4. As jy weer daar kom, word jou rybewys gevra.
5. As jy op ‘n bepaalde dag in die oggend gaan, is daar een reël; as jy die middag gaan, is daar weer ‘n ander reël.
My vraag is nou: wat moet jy as bewys gee wanneer jy daar gaan stort, indien enigiets? Dit is baie frustrerend om met ‘n vol vrag te gaan en jy word weggewys omdat jy nie die nodige dokumentasie het nie. Ander kere het jy niks nodig nie. Wat het die voertuigregistrasienommer te doen met wat jy stort? Ek kan verstaan as jy ‘n wettige munisipale rekening toon, maar hulle sal nie weet of dit werklik joune is nie.
My tweede vraag is waarom word vullis in swart sakke wat nie in die asblik pas nie, nie verwyder nie? Ons as inwoners van Krugersdorp betaal elke maand ons water-en-ligterekening, waarby vullisverwydering ingesluit is. As jy alles in die asblik sit en dit te swaar is, weier die munisipale werkers om jou asblik leeg te maak. Ek praat nie nou van boumateriaal nie, net gewone gras wat gesny is en takke van ‘n boom wat gesnoei is. Dit is waarom ons dan na die stortingsterrein toe gaan om dit daar weg te gooi, maar dan het jy weer ander probleme daar.
‘n Mens hou jou kant skoon deur op ‘n eerlike wyse volgens die reëls te werk maar die vraag word dan gevra, is dit nie dalk die rede hoekom daar soveel onwettige vullisstorting is nie? Miskien kan die Stadsraad meer klarigheid gee oor wat nodig is om dit reg te doen.
Ek kan julle waarborg dat iemand wat by die stortingsterrein weggewys word as gevolg van ‘n gebrek aan eenvormigheid rakende prosedures, definitief nie met die vrag weer huis toe sal ry nie.
Ek hoop van harte dat daar werk gemaak sal word rakende hierdie probleem. Daar word altyd gesê, “Keep SA green” maar as daar nie prosedures is wat reg toegepas word nie, sal dit nooit werk nie.
