BRIEF: Waarvoor betaal ons vir vullisverwydering?
Inwoner skryf 'n brief aan die munisipaliteit oor dienslewering, veral die nuwe riglyne en regulasies van wat as rommel beskou word en wat nie.

• Helgardt Oelofse skryf:
Wat gaan aan met Mogale City se dienslewering?
Skielik word daar vir ons gesê wat om in ons asblikke te gooi. Nou skielik na jare mag jy nie meer gras of blare in jou asblik gooi nie. Wat het geword van alles wat in die asblik pas sal verwyder gaan word? Ek verstaan dat bourommel en TV’s nie in die asblikke toegelaat word nie.
Word daar nou van ons verwag om die bietjie tuinafval wat in die asblik pas, self weg te gooi? Wat betaal ons vir vullisverwydering?
Mogale lewer in elk geval so ’n swak diens. Jou asblik word sommer omgestamp en stukkend as hulle dit leegmaak en dit word nie op sy plek teruggesit nie, en dan verwag jou personeel nog ‘n Krismisboks? Wanneer gaan hulle eendag die gras op die sypaadjies sny en die onkruid skoonmaak? Dit is in maande nie gesny nie en lyk sleg oral waar jy kyk.
Fokus asseblief op die werk waarvoor die man in die straat betaal en hou op om ons te melk vir elke sent wat ons het vir jou onbevoegdheid.
*Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het in verskeie verklarings verduidelik wat as vullis beskou word en wat nie en dat die Luipardsvlei-stortingsterrein weer vanaf 12 Februarie oop is. Besoek gerus ons webwerf www.krugersdorpnews.co.za vir die volledige verslae oor die onderwerp – Red.