Begin die jaar met ‘n huppel in jou stap
Raak weer lus vir die lewe deur vars lug op 'n opwindende staproete te skep.
Raak ontslae van die feestyd se oortollige vetjies deur op verfrissende staproetes saam met die Krugersdorpse Stapklub te gaan.
Die klub beplan om die roete Kranskloof op 14 Februarie te stap.
Die roete is naby Buffelspoort-vakansie-oord, en klimaatsgewys omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is skielik in die kloof.
Wat ‘n aangename verrassing! Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op, alles is daar. Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon en daar is selfs ‘n grot of twee.
Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet, maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Die volgende roete, Hennops word vir 14 Maart beplan.
Hierdie is ‘n baie gewilde roete, redelik lank, sowat 15 kilometer, met baie uitdagings vir die avonturier. Daar word met ‘n sweefkarretjie oor die rivier gery, dan word daar met ‘n leer afgegaan na ‘n grot wat skuiling bied teen wind en weer. Daar word oor koppe en klowe gestap, en wild kan ook gesien word.
Goeie stapskoene en genoeg water (en energiestafies) is ‘n moet vir hierdie stap. ‘n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete was nog altyd goed versorg.
Dit is ‘n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié wat net eenvoudig ‘n goeie wegbreek en ‘n hele oggend in die rustige, pragtige natuur wil geniet.
Stappers vergader by Fruit & Veg by Heritage Square op Cecil Knightstraat om 7.15vm en vertrek om 7.30vm na die roete toe.
Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
