Heerlike staproetes vir hart en siel
Stap is werklik 'n ontspanning vir liggaam en siel.
Stap-entoesiaste word uitgenooi om by die Krugersdorp Stapklub aan te sluit.
Die klub gaan op 9 Mei Shelter Rock (Fouriesrus) aanpak.
Shelter Rock is aan die hange van Magaliesberg op privaat grond, omtrent 55km vanaf Krugersdorp in die Skeerpoort-rigting net verby Hekpoort.
Die rots waarna in die naam verwys word en ander is deur weerlig op die kruin van die berg losgeruk. Die enigste Knopkierie Gholfbaan in die wêreld is hier geleë. Dit is werklik ‘n pragtige roete. Daar word teen die berg uit gestap, tot op die kruin vanwaar die mynhope van Krugersdorp op ‘n mooi skoon oggend gesien kan word. Die uitsig is asemrowend mooi, selfs ‘n gedeelte van die Hartbeespoortdam is sigbaar.
Daar word ook baie gemaklik op die kruin gestap, en met die afstap is dit effens steil, maar nêrens gevaarlik nie. Na die tyd word daar gewoonlik ook ‘n heerlike braai geniet.
Op 13 Junie word Kloofendal aangepak.
Hierdie is ‘n gemaklike, lekker, pragtige en veilige roete. Dit is hoe stappers hierdie roete beskryf, want van al die nabye roetes is hierdie stap werklik ‘n ontspanning vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie, en al lê dit in die middel van die woongebiede, is dit tog afgesonderd en rustig, en baie mooi.
Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes. Dit is gratis om daar te gaan stap, en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Stappers vergader by Heritage Square op die hoek van Cecil Knight- en Viljoenstraat om 7.15vm.
Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
