Helpende Hand belê in kleuters
DIE Immergroen Kleuterkursus wat as deel van Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek by skole regoor die land aangebied word, is die afgelope naweek vir 20 ouers van die Aqua kleuterskool in Tzaneen aangebied.
Volgens Elna Gouws, voorsitter van die Helpende Hand Tzaneen-tak, het die kursus aan die ouers die geleentheid gebied om hul kleuters beter te verstaan en te hanteer. “Die terugvoer van ouers en personeel was baie positief,” sê Gouws. “Helpende Hand wou graag deur hierdie kursus die ouers bemagtig en toerus, en boonop het almal die kursus baie geniet.”
Die Kosblikkieprojek word elke jaar nasionaal aangebied en fokus op die holistiese ontwikkeling van kleuters deur opleiding aan ouers, onderwysers en voogde te bied.
“Hierdie projek poog om armoede reeds op die vroegste stadium te voorkom,” sê Michelle Burger, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Die meerderheid kleuterskole wat deel uitmaak van hierdie projek ontvang geen staatsubsidie nie en het dus geen of beperkte fondse om opleiding aan ouers te bied. Helpende Hand besef hoe belangrik dit is dat ouers en onderwysers weet hoe om kinders kognitief te stimuleer en korrek te dissiplineer om sodoende die optimale ontwikkeling van die kind te verseker.”
Om by te dra tot die Kosblikkieprojek en kleuters se lewens te raak, SMS die woord “bord” na 36930 teen R5 per SMS.
Enige persone wat belangstel om by die Helpende Hand tak in Tzaneen betrokke te raak, kan die Limpopo streekorganiseerder, Marianthie van der Walt, by 082 741 7858 skakel.