Nesta is finalis vir toekenning
NESTA Botha (63) van Tzaneen is een van die tien finaliste vir Solidariteit Helpende Hand se Silwerkroon-toekennings wat in September toegeken sal word. Nesta staan uit in die Tzaneen gemeenskap weens haar onmisbare passie vir liefdadigheid. Sy is verantwoordelik vir die dienssentrumbyeenkomste van bejaardes elke Vrydag, onder leiding van die Tzaneen Vereniging vir Bejaardes. “Nesta …

NESTA Botha (63) van Tzaneen is een van die tien finaliste vir Solidariteit Helpende Hand se Silwerkroon-toekennings wat in September toegeken sal word.
Nesta staan uit in die Tzaneen gemeenskap weens haar onmisbare passie vir liefdadigheid. Sy is verantwoordelik vir die dienssentrumbyeenkomste van bejaardes elke Vrydag, onder leiding van die Tzaneen Vereniging vir Bejaardes.
“Nesta is werklik ‘n helpende hand in haar gemeenskap en ‘n voorbeeld vir soveel ander,” sê Michelle Burger, projekorganiseerder van Helpende Hand se Ouma en Oupa-projek. “Onder haar leiding word aktiwiteite en items elke Vrydag vir 30 bejaardes aangebied, wat alles insluit van uitstappies en speletjies tot boekvoorlesings en toesprake. Nesta gee aan die bejaardes menswaardigheid, liefde en aanvaarding.”
Nesta is egter baie nederig wanneer sy oor haar goeie werk uitgevra word. “Dit is so lekker om met die bejaardes te werk en ‘n mens kry so baie liefde terug. Ek sal graag so lank as moontlik betrokke wil wees.”
Sy sê ook dat sy dankbaar is vir haar gesondheid wat haar in staat stel om terug te gee aan haar gemeenskap. “Ek dink om steeds aktief in jou ouer jare te wees, is maar ‘n kop-ding. Jou kop moet reg wees,” sê sy.
Wie is haar inspirasie om so onbaatsugtig terug te gee? “My pa,” glimlag sy. “Hy het stil-stil so baie vir mense om hom gedoen sonder om dit aan die groot klok te hang.
“Eers jare later het ons uitgevind hoe baie mense hy gehelp het. Hy was regtig ‘n besondere mens in my lewe.”
Die wenner van die Silwerkroon-toekenning sal in September aangekondig word.
Om vir Nesta Botha te stem, SMS “1” na 34384 (SMS kos R2). Die sluitingsdatum vir SMS’e is 5 September 2014.