Letaba loop Black Panthers
Letaba se eerste- en tweedespanne het Saterdag in Polokwane kragte gemeet met die Black Panthers.
Letaba het kookwater hardloop rugby gespeel en het die voor- en agterspelers het skitterend gekombineer en die drie’e ingeryg.
Beurtkrag het egter hier ook ‘n invloed gehad en die eerstespan se wedstryd is net na halftyd gestaak aangesien dit te donker was en die spelers se veiligheid in gedrang was.
Letaba se skrumwerk en lynstane was weer uit die boonste rakke.
Die voorspeler van die wedstryd was die slot, Glen Mafumo, wat die hele veld vol gespeel het en ‘n kortkop agter hom was losskop, Piccaso Coetzer. Hulle is goed ondersteun deur hulle los voorspelers, Quinten Kruger, Wikus Steyn en Pretoria Shilubane.
Eben Fichardt en JP Schwarz het ook hulle teenstaanders laat kreun met klipharde dryfspel. Agterlangs het die senter-kombinasie van Deano Kruger en Gom Vuma uitgeblink en is hulle beide aangewys as agterspelers van die wedstryd. Die vleuels, Cornel Jacobs en Henke Niemandt was ook uitstaande en het hulle orals op die veld opgeduik om ‘n beweging verder te voer.
Letaba 1 het hulle wedstryd met 43-0 gewen. Die volgende spelers het drie’e gedruk vir Letaba 1: Glen Mafumo, Wikus Steyn, Pretoria Shilubane, Deano Kruger (2), Gom Vuma (2) en het Gom Vuma ook geslaag met drie vervyfskoppe.
Letaba 2 het hulle wedstryd met 53-07 gewen. Uitblinkers was die losskop, Tiaan Posthumus, die los voorspelers, Gene Saaiman, Jacques Griesel en Aalwyn van der Lith. Agterlangs was skrumskakel, Bolla Beswick woelig en die senters, Daneel Retief en Carel O’Neill vol hardloop rugby. Vleuel, Joseph Monyela het ook sy teenstanders groot probleme besorg en 3 drieĆ« gedruk.
Die volgende spelers het drieĆ« vir Letaba 2 gedruk: Joseph Monyela (3), Tiaan Posthumus (2), Gene Saaiman (2), Steve Mushwana en Carel O”Neill en het Lenis van Rooyen met vier vervyfskoppe geslaag.
Letaba speel die naweek die eerste keer in ‘n lang ruk tuis teen die gedugte span van Louis Trichardt. Louis Trichardt het verskeie Vodacom Spelers in hulle span en het reeds met Noordelikes afgereken, iets wat Letaba nog nie vanjaar kon regkry nie. Louis Trichardt het dit ook duidelik gemaak dat vanjaar hulle groot jaar is en ruk hulle op met drie spanne om Letaba van die veld af te speel.
Al drie Letaba se spanne speel skitterende hardloop rugby en dit belowe om uitstaande rugby Saterdag te wees. Die publiek word vriendelik uitgenooi om die dag by te bring. Die eerste wedstryd skop om 15:00 af.



