[VIDEO] ‘Klein knapie – groot bohaai’ 21 jaar later
Die "klein knapie", Rainier Horak, wat in 1994 groot bohaai veroorsaak het, toe hy onverwags in 'n privaat vliegtuig gebore is, is seker die enigste oud-inwoner van Tzaneen wat 21 jaar later kan spog dat hy in 'n vliegtuig gebore is.
Dit kom as geen verrassing dat Rainier vandag ‘n vlieënier is nie.
Dit was sy wens om op sy 21ste verjaarsdag self na sy geboorteplek toe te vlieg.
Sy ma en stiefpa, Carel en Ilze de Nysschen, het die vlug meegemaak.

Ilze de Nysschen het destyds komplikasies met die geboorte van haar kind gehad en moes in nood deur gevlieg word Pretoria toe.
Skaars 20 minute in die vliegtuig het sy in die lug geboorte aan Rainier Horak geskenk.
‘n Verpleegsuster, Maggie van Aswegen, het Ilze op die vlug vergesel.
Die vlieënier, Donald Bisset, het die koördinate en spoed neergeskryf.
Rainier is tussen Roedtan en Marble Hall gebore teen die spoed van 256km/h.
Sy pa, Sieg Horak, is 10 maande na sy geboorte oorlede.
Ilze het Carel later ontmoet en dis toe hulle Kempton Park toe verhuis het.

Niemand wou Rainier glo toe hy kleiner was nie.
Hy moes die koerant uitknipsel gebruik wat Letaba Herald destyds publiseer het.
Rainier vlieg al sedert 2012 en het al sy private-vlieglisensie.
Hy sal in 2016 sy kommersiële-lisensie kry.

Rainier sê dit was die beste 21ste geskenk ooit!



