EntertainmentFeaturesLifestyleLocal newsNews

Huldeblyk aan alle vroue

John Eastes bring hulde aan vroue:

Om die ideale vrou te beskryf is al deur menige sangers, digters en self die Bybel gepoog en daarom gaan ek wegskram van hierdie oeroue poging, aangesien my beskrywing glad nie gaan ooreenstem met enige ander persoon s’n nie, want sien dis ‘n baie oppervlakkige beoordeling en uiters subjektief.

Miskien het oorlede Lukas Maree dit die beste verwoord in sy liedjie “Droomvrou,” waar hy sê dat hy al jare lank na haar soek en snags van haar droom. In elke droom egter, ontwyk haar gesig hom en die Droomvrou word ‘n obsessie by hom. Een aand kyk sy skielik om en is hy tot in sy siel verstom. Die soektog na sy Droomvrou was verby want soos sy liedjie sê, “en sy was toe al die tyd maar net jy”.

‘n Huldeblyk aan alle vroue klink seker maar soos ‘n cliché, maar terwyl ek die huldeblyk skryf, besef ek hoe maklik en hoe baie daar al huldeblyke geskryf is oor welbekende vroue. Vroue wat op een of ander wyse ‘n positiewe impak gehad het op ander se lewens. So ook vroue wat ‘n ernstige en lewensgevaarlike situasie, hetsy ‘n geweldadige aanval of siekte, oorleef het en hulle verhaal met ander gedeel het as inspirasie.

Die vraag wat by my opkom is: “Wat van die duisende, miljoene ander vroue wat ‘n doodgewone lewe lei en wat die realiteite van armoede en gesinsgeweld elke dag moet trotseer? Wat kos op die tafel moet sit, hul kinders moet klee en onderrig. “Wie bring ooit hulde aan hierdie dapper en soms eensame vroue wat soos my ma altyd gesê het: “Die suurdeeg van elke familie is!” Mag ek nederig die geleentheid gebruik om spesifiek hierdie vroue te vereer wat soos skimme elke dag ‘n oorlewingsstryd moet voer en tog wanneer jou pad met hulle kruis so blymoedig en trots is.

My boodskap en droom vir elke vrou is:

• Om vas te klou aan jou drome, want as jy nie aan die onmoontlike glo nie, sal die lewe maar saai en voorspelbaar wees.

• Elke vrou behoort onbevange die wêreld in te vaar sonder dat daar gevrees word vir geweld wat haar lewe bedreig.

• Elke vrou behoort haar eie grense oor te steek, anders sal sy nooit weet wat moontlik vir haar wag of waartoe sy in staat is nie.

• Elke vrou behoort te glo sy verdien die beste in die lewe.

• Elke vrou behoort soms kliphard te lag en die lewe te geniet.

• Elke vrou behoort haarself op die skouer te klop en goed te voel oor wie sy as mens is en nie oor haar man se status of haar kinders se prestasies nie.

• Elke vrou moet soms sê wat sy dink, want haar opinie is nie net belangrik nie, maar uiters nodig.

• Elke vrou moet trots wees op haar ouderdom, dis die ervaring wat tel en nie die jare nie.

Ten slotte wens ek al die vroue in my lewe en vroue in die algemeen ‘n wonderlike vrouedag toe. Vrouens is baie spesiaal en as ons mans net soms die tyd wil maak om bietjie om ons rond te kyk en op te let, sal julle soos ek, ook agterkom dat ons vrouens fenominale wesens is. Vrouens is uiters bekwaam, lewenslustig, innoverend en leiers in hulle eie reg.

Ek let op dat vroue die groep is wat baie keer die braai by vriende aan die gang hou met hul spontaniteit. So sien ek ook dat dit dikwels vroue is wat staan en dans op die ritme van die musiek by kunstefeeste en musiekkonserte. Laat my dink aan die 1983 trefferliedjie: “Girls just want to have fun”.

GO GIRLS!! Hierdie man is baie dankbaar dat julle in ons lewens is en het ongelooflik baie respek en waardering vir julle!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button