My raakvat-vrou
Abrie Cilliers bring hulde aan sy raakvat-vrou:
Ek is bevoorreg om Sonia as my vrou te hê.
Sy is ‘n ware Spreuke 31 vrou op wie ek baie trots is.
Sonia is passievol oor haar beroep as tandarts en bedien haar pasiënte met die grootste toewyding en sorg.
Sy het haar studies met lof voltooi in 1982 en was as die beste finalejaarstudent in haar klas bekroon.
Sonia ontsien geen moeite en koste om op hoogte van die nuutste ontwikkelings in haar beroep te bly nie. Sy skroom nie om Amerika, Italië of Switzerland toe te reis om seminare, kongresse of lesings deur toonaangewende spesialiste by te woon nie. Sy handhaaf die hoogste standaarde in haar praktyk en sien toe dat slegs die beste materiale en toerusting gebruik word. Sy het in 2008 begin om nie chirurgiese kosmetiese behandelings te doen en haar praktyk beskik oor die nuutste laser, afskilfering en ander kosmetiese toerusting.
Sonia se uitleef van haar verhouding met die Here is vir my ‘n inspirasie. Sy het ‘n vaste en kinderlike geloof in die getrouheid van die Here. Haar meelewing teenoor mense in nood is opreg en met empatie.
Sonia is nie net my vrou nie, maar ook my beste maat en ma van ons vier kinders met wie sy elkeen ‘n besonderse verhouding het. Ek geniet dit om saam met haar kos te maak en lekker nuwe wyne te ontdek. Haar musieksmaak is dieselfde as myne en ons hou daarvan om saam na ons gustelinge te luister.
Sy is absoluut gek oor dans en wanneer die geleentheid hom voordoen, dans sy met oorgawe. Sy het die vermoë om die lewe intens te geniet.
Dis vir my so lekker dat sy Tzaneen, sy klimaat en natuurskoon opreg waardeer.
Ons is lief vir die natuur en buitelewe. Saam bestudeer ons voëls, ontdek en identifiseer nuwe bome en geniet om die doen en late van wilde diere dop te hou.
Sy doen moeite om my beroep te verstaan en ondersteun my ten volle in my werk. Sy beleef die uitdagings en beproewings van my beroep intens saam met my. Sy deel ook in my blydskap as ons ‘n nuwe werk of aanstelling kry.
Sy is ‘n wyse vrou. Sy is ‘n eerbare vrou. Sy is ‘n geliefde vrou.
Spreuke 31 vs 10 sê:
Wie ‘n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom.



