Editor's choiceLocal newsNews

Geliefde Ellen Erasmus oorlede

Geliefde inwoner van Tzaneen, Ellen Erasmus (76) is op 29 September oorlede. Haar roudiens is Saterdag 10 Oktober om 15:00 vanuit die Hervormde Kerk in Tzaneen.

ELLEN MARIA ERASMUS (gebore Grobler)

14/11/1939 – 29/09/2015

HULDEBLYK


Ellen is gebore in Pretoria, in die Ou Moedersbond, die oudste van die eerstelingtweeling van Ds en Mev Gerhard Grobler, toe van Potgietersrus / Koedoesrand. Sy het grootgeword en skoolgegaan in Ermelo, Boksburg en uiteindelik in Pretoria.

Sy het na skool gaan onderwys studeer en het in juniorwerk gespesialiseer. Deur die jare het sy onder andere skoolgehou by die Transoranje Skool vir Dowes. Nadat haar kinders haar aandag geverg het, het sy dikwels tydelik uitgehelp en uiteindelik tot met haar aftrede voltyds skoolgehou by Bankuna Hoërskool in Nkowankowa.

Ellen was die baie trotse Ma van Lourens en Tertia, Gerhard(Chatz) en Corlia, Jannas, en Tienie(Sussa) en Dirk, en die nog trotser ouma van Jean-Marie, Theo, Petro, Jabes, Christiaan, Gerhardus, Isanelle en Luka. Maar sy was ook die ouma van elke kind in die familie of waarmee sy te doen gekry het.

Sy het baie mense se lewe verryk met haar insig, liefde en humor, en die feit dat sy altyd daar was vir haar vriende en vriendinne.

Na haar aftrede het sy in Haenertsburg gaan woon. Sy was reeds lankal die Hervormde ouderling van Haenertsburg. Op mistige dae het sy ingeskakel by die Letaba Christian Church en was baie gelukkig daar. Tipies Ellen, was sy kort voor lank in 3 Bybelstudiegroepe, waarvan sy 2 gelei het.

Haar onafhanklikheid en liefde vir rondrits het dit vir haar noodsaaklik gemaak om ‘n karavaantjie te koop en die land vol te toer. Ouma Ellen het geglo dat kinders op vakansie moet gaan, en nog meer, dat kinders so veel moontlik tyd met hul nefies en niggies moet spandeer. So, daar was altyd ‘n plannetjie beraam, wees dit Sequoia, of Rus de Winter of Karkloof of Bergville of Amanzimtoti of Leeupoort of Dap Naude Dam of Banana Beach of Hartenbos of selfs net Haenertsburg. Ouma Ellen was die energie wat alles laat gebeur het… en daar was altyd heerlike stories om oor dié avonture te vertel. En kón sy nie vertel nie! Altyd ruimskoots besprinkel met humor en haar lag.

Haar laaste paar maande het sy by Retha en Daan deurgebring, waar Sussa haar naweke kon gaan haal. Vir hierdie liefdevolle versorging kan ons as familie net baie dankie sê.

” Liefste Makie, Ellen, Briljantjie, Ouma Ellen, Sus Ellen, Tannie Ellen…

Jou aardse lewe is nou verby, maar ons weet jy was gereed en hoopvol om die Hemelse Heerlikheid te beleef.

As ons aan jou dink, dink ons aan die baie en lekker saamwees en kuiers… en jou lag. Ons gaan jou mis. Dis swaar om agter te bly en te weet ons gaan nie weer jou onverbeterlike vertellings en skaterlag hoor nie; jou praktiese briljante raad vra nie; jou vrygewige naasteliefde beleef nie; jou geloof en voorbeeld hê nie; jou onvoorwaardelike liefde en aanvaarding ken nie.

Ons gun jou die rus en vrede en liefde wat ons weet jy nou by God ondervind.’

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.

Related Articles

Back to top button