Inwoner woedend oor optrede van Van Velden Hospitaal personeel
Die swak diens en gebrek aan vinnige ontvangs by Van Velden Hospitaal se ongevalle eenheid, kan mense se lewens beteken, dít volgens Dewald Swart van Large Sekuriteit wie Maandag 'n onaangename ervaring daar beleef het.
Een van sy wagte ly aan epilepsie en het ‘n aanval tydens werks-ure op sy pos gekry.
Die ander wagte op die pos het dadelik vir Dewald Swart, een van Large se toesighouers van die Tzaneen area laat weet.
Hy het hom daarheen gehaas, die siek wag, Alpheus Marobella gaan oplaai en na Van Velden Hospitaal gejaag.
By die hospitaal aangekom het die personeel, volgens Swart, hom en sy seun, Ettiené Klue, van bakboord na stuurboord heen-en-weer gejaag sonder om aan te bied om te help.
Na hulle talle lede van die hospitaal se personeel gevra het om hulp en niks daarvan gekom het nie, het ‘n suster van die hospitaal hulle uiteindelik gaan help en Marobella is opgeneem.
“As mens iemand by ongevalle aflaai is dit tog gewoonlik ‘n noodgeval en daarom is dit onaanvaarbaar dat die hospitaal se personeel nie dadelik help nie.
Tyd morsery soos hierdie kan iemand se lewe beteken,” het Swart gesê.
Die hoof uitvoerende beampte van die hospitaal, Lotta Peniel, het met die Herald gepraat en voel egter daar was iewers ‘n misverstand in hierdie voorval.
Volgens Peniel se personeel het hulle slegs aan Dewald Swart verduidelik waar die portiere se ingang is sodat dié hom kon help om sy siek wag te laat opneem.
Swart stem egter nie hiermee saam nie. Volgens hom het ‘n personeellid selfs vir hom gesê dat sy seun ‘n rolstoel moet gaan haal en self die werker by die hospitaal instoot.
Peniel het belowe dat die saak verder ondersoek sal word.
“Ons plig is om noodgevalle soos noodgevalle te hanteer en sou ‘n siek mens by ons ongevalle land, maak ons dadelik werk daarvan.
Ons sal verder ondersoek instel na hierdie voorval,” het Peniel gesê.



