Langs-die-Oever weer in April
DIE GROOTSTE landboufees in die Noorde, die Langs-die-Oever landbou-vertoning, vind op 8 en 9 April op Kallie Erasmus se plaas op Constantia plaas.
Verlede jaar het die organiseerders besluit om die Landboufees tweejaarliks aan te bied en die groot belangstelling wat vir vanjaar se geleentheid ervaar word dui aan dat dit die regte besluit was.
Tydens ‘n beplanningsvergadering Woensdag het die organiseerders weer die motivering vir die geleentheid en doelstellings van die fees uitgelig. Dit is primer gefokus op demonstrasies en die hoofdoel is om die plaaslike landbou-ekonomie ‘n hupstoot te gee en daarom is die fokus ook hoofsaaklik op plaaslike handelaars.
“Ons is hoegenaamd nie in kompetsiie met die Skou nie, trouens, ons sien onsself as komplimenterend tot die Skou. Die Skou fokus op statiese uitstallings, massa besoekers en vermaak – Langs-die-Oever fokus op demonstrasies, inligting en ‘n landbou-verwante nismark,” beklemtoon Dawie Grobbelaar, voorsitter van Langs-die-Oever en nou ook voorsitter van die Skou.
Die organiseerders het ook besluit dat alle wins wat Langs-die-Oever genereer aan Agri Letaba geskenk sal word. Agri Letaba bied ook die Skou aan.
“Die idée vir ‘n landboufees het sowat vyf jaar gelede by ‘n aantal handelaars ontstaan. Ons doelwit destyds was om plaaslike handelaars in die landboubedryf die geleentheid te gee om hulle produkte en dienste op een terrein en dieselfde tyd aan boere bekend te stel. Praktiese demonstrasies is die grondslag van die landboufees en ons wil dit graag so hou. Daarom fokus ons op PLAASLIK,” beaam Renier Reynecke, een van die stigterslede van Langs-die-Oever.
Besprekings vir uitstallings is reeds oop en baie groot belangstelling word ervaar. Uitstalruimtes van 20mX20m en 5mX5m is beskikbaar en alles dui daarop dat alles binnekort opgeraap sal wees. ‘n Wye verskeidenheid trekkers, implemente en produkte sal uitgestal word en terwyl die fokus LANDBOU is, word die res van die gesin nie uitgesluit nie. Daar sal voldoende vermaak vir die kinders wees en met ‘n kleuterskool en die Voortrekkers wat vir ‘n geringe fooi na die kinders omsien kan ma heerlik rondstap en ontspan en die uitstallings geniet.
Vir meer inligting oor Langs-die-Oever en om stalletjies te bespreek kan Mirka geskakel word op 307-5000. Trekker- en implement-handelaars kan Nandes skakel op 082 824 8389 terwyl handelaars met swaar (geel) masjinerie vir Willem op 083 4144 238 kan skakel.



