Local sportSport

Dit is Bul teen Leeu die naweek

Dis Bul teen Leeu hierdie Saterdag in die hart van die Limpopo provinsie, wanneer die Vodacom Bulle en die Emirates Leeus in Polokwane teen mekaar te staan kom, in wat beloof om 'n opwindende opwarmingswedstryd vir die 2016 seisoen te wees.

Nollis Marais en sy Bulle het wel verlede naweek ‘n bloutjie teen die Bloemfonteinse Cheetahs span van Franco Smit geloop toe hulle met 26-10 verloor het.

Met twee strafdrieë wat uiteindelik die groot verskil tussen die twee spanne was, sal Marais egter steeds vol moed wees wanneer sy troepe Saterdag in Polokwane aantree.

Ackerman en sy Leeus is die afgelope jaar die toonaangewende Suid-Afrikaanse span as dit by aanvallende rugby kom en die Bulle sal hul keer moet ken as hulle teen hierdie rooi tornado wil walgooi.Hierdie sal die vyfde agtereenvolgende jaar wees wat die Vodacom Bulle se opwarmingswedstryd in Polokwane plaasvind.

Sal die 45 000 sitplekke egter genoeg wees vir al die Tzaneen en omgewing se Bulle wat opruk na die hart van Limpopo om hul span te sien speel?

Net tyd sal leer. Wat wel bekend is, is dat die geld wat tydens hierdie wedstryd by die hekke verdien word, aangewend sal word om studente in hierdie stad te help om hul studies moontlik te maak.

Afskop vind presies 17:00 plaas en ‘n verskeidenheid van ander aktiwiteite vind voor die tyd plaas wat beloof om pret vir die hele gesin te wees. “Alles om hierdie wedstryd is elke jaar van hoogstaande gehalte en sowel die spelers as die bestuur van ons unie sien elke jaar baie uit na hierdie wedstryd,” het Barend van Graan, die man in beheer van die Bulle gesê. Volgens Van Graan is dit ‘n droom van die Bulle om die span van die mense te word en help hierdie jaarlikse wedstryd baie om die Bulle nader aan hul ondersteuners in Limpopo te bring.

Belangstellende ondersteuners kan kaartjies via Computicket bekom of by die veld self, hoewel dit dalk beter sal wees om seker te maak jy het jou kaartjie in jou hand wanneer jy opdaag; Mens weet nooit hoeveel ander mense dieselfde plan het nie.

Kostes beloop R100 per persoon op die hoofpawiljoen, R60 vir die Noordelike- of Suidelike pawiljoene en R30 vir kinders van skoolgaande ouderdom. Parkeerkaartjies sal motoriste R20 uit die sak jaag.

Vir meer inligting is ondersteuners welkom om Manthoa Phihlela by 083 824 9844/082 923 8687 te skakel of om ‘n e-pos na manthoap@polokwane.gov.za te stuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button