Local newsNews

Eddie is ‘n ware Comrades kameraad

Die Comrades marathon word nog altyd in 'n unieke selflose gees gehardloop en deur die jare was daar verskeie geleenthede, waar hardlopers hul eie medaljedrome opgeoffer het, om 'n mede-hardloper in nood by te staan, of te probeer help. So was dit ook hierdie jaar die geval, toe 'n bekende inwoner van die Tzaneen omgewing, Eddie Vorster, hom by 'n ontwaterde hardloper (Willem Stolp van Letsitele) geskaar het en hom ondersteun het tot hy uit die moeilikheid was.

Nog ‘n Samaritaan, ‘n mediese dokter van Johannesburg wat verkies om anoniem te bly (sy identiteit is wel aan die Herald bekend), het sy wedloop ook opgeoffer en Stolp versorg tot hy buite gevaar was.

Die dokter het noodbehandeling op Stolp toegepas en hom gestabiliseer.

Altwee hierdie hardlopers het die afsnytyd vir Vic Clapham medaljes weens hul goedhartigheid gemis.

Volgens die anonieme dokter was Stolp in ‘n erg ontwaterde toestand en het hy op daardie tydstip beslis in lewensgevaar verkeer.

Volgens Stolp het die moeilikheid by die 54km merk begin.

“Dis ongelooflik hoe vreemdes my gehelp het en dit ten koste van hulle eie kanse om die wedloop te voltooi,” het Stolp aan die Herald gesê.

Stolp is die Sondag na die wedloop in ‘n Durbanse hospitaal opgeneem en weer die volgende dag ontslaan.

“Ek het terug by die huis ‘n dokter gaan sien en hy het my met griep gediagnoseer. Hy het gesê ek het waarskynlik die kiem voor die wedloop opgetel maar nog nie die simptome gewys toe ons gehardloop het nie en dit het beslis bygedra tot my toestand tydens die wedloop,” het Stolp bygevoeg.

Volgens Stolp, het die personeel van die hospitaal se Hoësorg Eenheid hom vertel dat hulle in totaal vyftien atlete vir ontwatering behandel het.

Eddie Vorster het, volgens Willem Stolp, aan hom gesê hy mis enige dag liewer ‘n medalje as dit beteken hy kan iemand anders se lewe help red.

Vorster self neem nie die krediet nie.

Hy meen dis ‘n kombinasie van mense wat saamgewerk het wat Willem se lewe gered het.

“Die Liewe Vader het die regte mense oop die regte plek gesit om Willem ‘n tweede kans in die lewe te gee,” het Eddie Vorster aan die Herald gesê.

Verder het hy begevoeg dat hulle nie eens geweet het die onbekende mense by wie hulle tot stilstand gekom het was ‘n dokter en ‘n verpleegster nie.

“Die dokter, die verpleegster, ek, almal van ons was eenvoudig deur die Here op die regte plek geplaas.”

Op die Herald se vraag oor hoe voel en of hy dit weer sal doen, is Vorster vir ‘n oomblik stil.

“Man, die teleurstelling is groot om nie ‘n medalje te kry nie, maar dis ‘n instinktiewe reaksie. Daar is nie tyd om te dink of jy moet of nie moet nie. Ek dink enige ander mens sou dieselfde gedoen het nie. In retrospek is ek bly,” antwoord hy dan.

In ‘n era van wen teen alle koste en in ons sukses gedrewe bestaan, is die jaarlikse Comerades Marathon en sy gereelde heldedade, werklik ‘n vars bries van selfloosheid, wat as baken kan dien vir die jeug van ons land en ‘n voorbeeld, van hoe sport éintlik beoefen moet word.

Op die ou einde, is die Comrades Marathon anders as ander wedlope.

“Die ware helde van die dag is diegene wat hul droom van die Comrades voltooi, opgee om die lewe van ‘n mede-hardloper te red. Die vreemdeling wat ‘n stukkende mens oor die wenstreep help. Dit is waaroor die Comerades Marathon gaan,” het Shirley Stewart, nog ‘n Tzaneense hardloper, wat hierdie jaar haar tweede agtereenvolgende Comrades wedloop voltooi het, aan die Herald gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button