NewsSchools

Sewe uit nege vir Vossies se netbalspanne

Die Hoërskool Ben Vorster het die afgelope naweek teen die Hoërskool Wonderboom in die PUK-reeks te staan gekom.

Die Vossies se netbalspanne het in hulle eerste wedstryde van die seisoen, die makro-skool uit Pretoria verras deur sewe van die nege wedstryde te wen.

Die uitslae was soos volg:

Die O/14 A-span, wat nog nooit ‘n wedstryd saam gespeel het nie, het baie onseker en skrikkerig begin, maar in die tweede helfte van die wedstryd hulle ritme gekry en met 29-5 gewen.

Die O/14 B-span was die hele wedstryd in ‘n gelykopstryd gewikkel, maar het in die doodsnikke van die wedstryd 2 doele aangeteken om 8-6 te wen.

Die O/15 A-span was hopeloos te sterk vir Wonderboom en het met akkurate doelskietwerk oortuigend met 21-4 gewen.

Die O/15 B-span het ook gewys dat hulle hierdie jaar baie sterker is en het met ‘n goeie vertoning 21-14 gewen .

Die O/16 A-span het van die begin af krane oopgedraai en goeie berekende netbal gespeel en 34-10 gewen. Hulle verdedigers, Rati Letsoalo en Bianca Thete, was uitmuntend met onderskeppings en het dit moeilik vir Wonderboom se doele gemaak om die bal te kry. Akkurate doelwerk van Zonika Stapelberg het hierdie oorwinning maklik gemaak.

Die O/16 B’s het ook van die begin af goeie netbal gespeel en 13-7 gewen.

Die O/17 A-span was deurgaans in ‘n gelykopstryd met Wonderboom gewikkel, maar ten spyte van uitmuntende spel deur die Vossies het Wonderboom in die laaste minute by hulle verby geskuif en die Vossies het 17-19 verloor.

Die Vossies se O/17 B-span moes met Wonderboom se senior tweedespan kragte meet. Hulle was net nie opgewasse nie en het 5- 26 verloor.

Die NTT Toyota eerstespan het van die eerste kwart af hard geveg en die wedstryd het die hele tyd wipplank gery. Die span van die Vossies kon eers in die laaste kwart hulle neuse voor kry. Die verdedigende spel van Dora Maloba verdien erkenning, sy het dit vir die doele ondraaglik gemaak. Die Vossies het uiteindelik met 32-27 gewen. Baie geluk aan al die afrigters en spelers en sterkte vir die res van die seisoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button