‘Trokke gaan oorsaak wees van tragedie op Georges Valley…’
Onaanvaarbare optrede deur trokbestuurders en wetstoepassers gaan die oorsaak wees van ‘n tragedie wat wag om te gebeur op die George’s Valley pad.
‘n Trok wat bakstene vervoer, het Dinsdagaand, 16 Mei geknipmes gestaan en was teen Woensdagoggend om 07:30 steeds daar.
Volgens ‘n bron wat Letaba Herald geskakel het, was die trok volgens hom 18ton oorlaai en het die trok sedert Dinsdagaand om 19:00 daar gestaan met slegs twee driehoek waarskuwings aan beide kante. Die trok het die pad heeltemal versper en verkeer moes van beide kante om die trok beweeg.

Dit gaan die verstand te bowe waarom die verkeersdepartement nie hiervan ingelig was, of op die toneel was om sigbare wetstoepassing toe te pas nie. Letaba Herald het wel een van Tzaneen se verkeersbeamptes geskakel, wat ook geensins bewus was van die trok nie. Die TPA is volgens hom, glo later ontbied. Volgens die trokbestuurder het die ratkas van die trok ingegee.
Dit was duidelik dat hulle geen insleepdiens of werktuigkundige probeer kry het om hulle te help nie, en het eiehandig probeer om die probleem op te los. ‘Daardie trok vervoer ongeveer 48ton stene. Wat as hy ‘n ongeluk veroorsaak het, hulle voel net mooi niks vir veiligheid nie,’ is aan die Herald gesê.
Dit was die vierde trok in ‘n kwessie van ‘n week wat die pad versper,’ is aan die Herald vertel.

Letaba Herald verneem dat nog ‘n trok vroeër in Mei maand ook op dié pad geknipmes het.
Twee ander trokke het glo ook verder die pad op, omgeval.
Daadwerklikke optrede blyk nie die prioriteit te wees om die trokke wat nie op die pad hoort nie, te beboet of te monitor nie. Dit is ook duidelik dat trokke nie die Mooketsipad wil gebruik nie omdat daar ‘n weegbrug is.



