
By Hoërskool Merensky word daar nie net geleer, gesport, gekultuur en geboer nie.
Op hierdie plaas het die gholfballe op Saterdag, 27 Oktober, oral deur die lug getrek. Plasieland se eerste Avontuur Gholfdag het liefhebbers van dié sport aan die gons. ‘n Unieke 10-putjie gholfbaan is die afgelope paar weke op die skoolterrein voorberei, kompleet met sandputte en watergate. Na registrasie het die avontuur op die B-veld begin. Drs. Spies en Vennote het gesorg vir ‘n woema-inspuiting en ander pilletjies vir elke speler by Afslaan 2.
FNB het volgende reggestaan op Plasiepark om ‘n lafenis in die warm son te bied. Vanaf Trophy Toyota se stalletjie, om die nuwe sportsentrum, tot bo in die parkeerarea het die baan genoeg uitdaging gebied om gholfers se aptyt aan te wakker. Voor Afslaan 6, is die innerlike versterk in Die Byekorf wat as halfweghuis gedien het. Daar het braaivleisgeure monde laat water. Merensky MDDK het bederf met smultertjies en yskoue water.
By Afslaan 7 het die vriendelike dames van Crawdaddy’s en Hotel@Tzaneen weereens reggestaan met ‘n lafenis, waarna AgriMerensky en Brennco Voere spelers verder bederf het met Plasie-geskenkies. Hier het Louis Pienaar ‘n skaap gewen deur die naaste aan die pen te eindig oor ‘n afstand van 193m.
In die koelte van Magoebaskloof Mountain Lodge se gazebo was die einde in sig. PPS het kele nat gemaak, vanwaar oor die laning en pawiljoendakke geslaan is om die laaste gaatjie te speel.
Tzaneen 4×4 het langs die biertent gespog met hoe hulle jou 4×4-voertuig kan optower. Na die Currie Beker finaal op die grootskerm, waartydens heerlik aan Die Biltongboks se lekkernye gepeusel is, is hope pryse uitgedeel.
Kieran Albertus was die beste juniorspeler, met 36 houe, terwyl hy en sy spanmaat, Pieter Gouws, ook die junior spanprys ingepalm het. Jacques van Schalkwyk was die beste seniorspeler en hy en sy spanmaat, Des Stephenson, het die spanprys verower. Die kersie op die koek was die trekking van ‘n 2018 Volkswagen Polo Vivo 1.4 Trendline wat gewen is deur dr. Wannie de Villiers. Volgende jaar maak die Plasies weer so!