‘Ek kyk anders na karre’
Vinnige en mooi motors is Eddie Simpson se passie. Letaba Herald het met hom gesels.
“Ek kyk na karre soos ander mans na vroue kyk.”
Sonder om na die foto’s te kyk sou meeste lesers wat langer as tien jaar op Tzaneen woon geweet het dat dit Eddie Simpson is wat nou daar praat!
Letaba Herald het met dié bekende gaan gesels oor sy donkiejare in die motorhandelbedryf.
Sover daar vasgestel kan word, is hy beslis die langslewende in die kommersiële motorhandel op Tzaneen. Hy en sy beterhelfte, Henia, begin somme maak om uit te werk wanneer hulle nou eintlik hier aangekom het. Dis nie so maklik nie. Of jy dit nou koppel aan die kinders se geboortedatums of wanneer jy as verkoopsman die eerste keer begin werk het, dit is baie jare.
Toe hy destyds as een van nege verkoopmanne begin het by Eastvaal Ford op Tzaneen, was dit letterlik ‘n kwessie van deur tot deur verkope. Eddie sê dat hy nie net karre so verkoop het nie maar baie vriende gemaak het.

Hy vertel dat sy passie vir karre al van kleintyd af kom. Hy het nog altyd in karre belang gestel. As klein seuntjie kon hy elke kar wat op die pad was identifiseer. Hy het allerhande karretjies bymekaar gemaak en soos hy vandag nog doen. Enigste verskil is dat die karre wat hy deesdae bymekaar maak kos ‘n paar rand meer.
Terwyl ons so praat van karre en passies, verhelder sy gesig sommer en met ‘n “dan is daar nog die tydrenne natuurlik!” Natuurlik. Bo en behalwe ‘n groot gesinsman, kranige motorverkoopsman en ‘n suksesvolle sakeman was hy tot twee jaa gelede nog baie naweke agter die stuur van sy Opel Corsa 1400 besig om aan tydrenne deel te neem. En nogal nie sleg gevaar nie! Maar weens sy gesondheid moes hy die tydverdryf ‘n bietjie eenkant sit.
Eddie is lid van die “Classis Cars Club” en sy spesifieke belangstelling is die klassieke Amerikaanse modelle. As hy van sy karre praat dan is dit van hulle wat hy praat.
Chevrolette… Corvette en Mustang… en net die manier waarop hy dit sê laat ‘n mens verstaan hoekom daar liedere oor karre geskryf kan word!
Hoeveel karre het Eddie Simpson? Word die vraag sommer so in die oopte gevra. Hy glimlag, huiwer effens en kyk dan na sy vrou. “Toe, sê! Ek wil ook weet” is haar reaksie.
Ons gaan nie sê wat daardie getal is nie maar wat wel gesê kan word is dat hulle ooral is. Almal in verskillende stadiums van onderhoud en herstel.
Om te vertel dat Eddie Simpson vir 30 jaar lank die eienaar van Simpson Motors was en vir 25 jaar die General Motors franchise besit het, is bysake. Die passie wat hy het vir karre en sy liefde vir mense is waaroor dit gaan.
Dis lang pad stap en baie klippe kou en met die jare het Eddie en Henia Simpson bekende Tzaneeners geraak. Baie jare gelede hier aangekom. Wortel geskiet.
En nou? Nou dat hy uiteindelik “afgetree” het.
Daar is nog planne vir die toekoms. Daar is nog ou karre wat gekoop moet word, ‘n lappie grond wat mee gewoeker moet word. En hy koop ou karre en plant bietjie avokado’s. Hou ‘n paar njalas aan. Koop ou karre …



