Local newsNews

TZANEEN: Sameroeper van mense op die wêreldverhoog

Dr. Theo de Jager is die president van die wêreldlandbouersorganisasie, iemand met 'n passie vir familieboere en die lewe!

Eenmaal ‘n maand vlieg dr. Theo de Jager na Rome om as president van die wêreldlandbouersorganisasie (WFO), hul bestuursvergadering by te woon. Verlede jaar was hy in 26 lande, waarvan sommige meer as een keer.

Dog bly sy plaas in George’s Valley waar hy al meer as 20 jaar boer, dié wêreldburger se tuiste. “George’s Valley en sy mense is ‘n besonderse gemeenskap,” gesels hy. “Ek boer met avokado’s, bloekoms en makadamias.” Wanneer hy reis, is dit sy vrou Karin wat die fort hou. “My jongste dogter is ‘n graad 7-leerder by Laerskool Tzaneen.” Sy oudste studeer op Stellenbosch en sy dogter is op Affies in Pretoria.

 

Theo de Jager en sy vrou Karin.

Hy het sy beroepslewe as onderhandelaar in die mynbedryf begin. Vandag is hy steeds die ‘onderhandelaar’, die skaal en impak het net na
die wêreldverhoog geskuif.

“Destyds, in my werk by Gencor, het ek te make gekry met ‘n palmboomboer van Trichartsdal. Hy het my ‘n werk as plaasbestuurder aangebied.” Hier het hy vir die eerste keer in die georganiseerde landbou betrokke geraak. ‘n Paar jaar later, toe hy hom in Tzaneen gevestig het en sy eie plaas gekoop het, het hy as voorsitter van die plaaslike boerevereniging by grondeise betrokke geraak.

“Die begin 2000 was onseker tye. Ek het grondbesit en -eise ingestudeer en kon insette op plaaslike en provinsiale vlak lewer.” Die leiding wat hy op dié gebied geneem het, het uiteindelik daartoe gelei dat hy vir ses jaar as visepresident van Agri-SA die grondhervormingsagenda gedryf het.

Sy curriculum vitae is ‘n bewys van ‘n lewe gewy om die belange van boere wêreldwyd uit te bou. “Ek het die geleentheid gehad om die Verenigde Nasies (VN) 22 keer toe te spreek.” Onlangs, tydens ‘n vergadering van die Global Forum for Food and Agriculture (GFFA), was die landbouministers van 79 lande teenwoordig. “Net vier mense by die vergadering was nie ministers nie.” Dit bied ‘n platform om besluitnemers globaal te beïnvloed, sê hy. So het die VN onlangs die dekade van die familieboer van stapel gestuur. “Familieboerderye oor die wêreld heen is die behoudende deel van die samelewing. Van Rusland tot in Argentinië is die waardes en gebruike dieselfde. Hulle sit steeds elke dag om die tafel en eet saam.”

In omgewings waar familieboerderye verdwyn het, het die dorpe ook gekwyn, sê hy. “Tzaneen se sterk landbou-ekonomie sal waarskynlik ontwikkeling stimuleer en die dorp sal ‘n klein stad word soos wat dienste rondom die boerderye sentraliseer.” Die waardeketting ‘betaal’ die omgewing terug en skole en kerke, die hart van gemeenskappe is, bly behoue, sê hy.

Die gebrek in grondbesit, veral in Afrika, hou mense arm. “Kleinskaalboere ervaar reuse-probleme rondom beleggings. Die grond is
nie as kollateraal beskikbaar om finansiering te bekom nie.” Hy is gevra om insette hieroor aan die Afrika-unie te lewer en veral die Nood-Afrikane het dit ter harte geneem deur beleidsveranderings te maak. “Indien vennoot-gedrewe internasionale beginsels rondom grondbesit toegepas word, sal dit Afrika as voedselverskaffer aan die wêreld ontsluit.”

In Zimbabwe het hy in 2016 vier landbou-organisasies saamgesnoer om met Mugabe ‘n kompromie te bereik oor voortgesette geleenthede in die landboubedryf. Dié ‘onderhandelaar’-werk het die guns van die Zimbabwiërs gewen wat hom genomineer het as president van die WFO. Hy is verlede jaar vir ‘n verdere twee jaar as WFO-president verkies.

‘n Dagbesoek op uitnodiging aan die tegnologie-filantroop, Bill Gates, by sy woning in Seattle in Amerika het hom onder die indruk gebring van die gebruik van data (soos blockchain) om landbou in Afrika uit te brei. “In Rome het ek boere gesien wat in die stad sit en presies weet wat op hul plaas 40 km verder aangaan deur die gebruik van tegnologie soos hommeltuie. In Afrika kan tegnologie landbou dryf en voortuitgang verseker.”

Die nood van familieboere het verlede jaar gestalte gevind toe hy ‘n stigterslid was van SAAI. “SAAI is ‘n organisasie vir familieboere. Familieboere is nie groot of klein nie, is nie nét wit, of nét swart, nie. SAAI het vennootskappe aangegaan om spesifieke behoeftes aan te spreek.”

Hy sê ook veral Afrikaner-familieboere kan ‘n rol speel om ervaring, kundigheid en infrastruktuur te skep. “Dis my wens dat die skerpste jong mense die landboubedryf moet betree. Landbou is multidimensioneel, interessant en kompeterend. Boonop leer die lewe op die platteland kinders afhanklikheid van die omgewing en natuur!”

‘n Wens wat ‘n groot waarskynlikheid is as dié ‘onderhandelaar’, sameroeper van mense en dinge, eers sy kop daarop sit, sommer hier in Tzaneen se midde!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button