Local newsNews

Inmaakfabriek in Tzaneen beskerm werkers teen koronavirus

Die internasionale handelsmerk, Peppadew, se fabriek in Tzaneen is goed voorberei om hul 2800 werknemers teen die koronavirus te beskerm.

‘n Intensiewe program is by die Peppadew-inmaakfabriek in Tzaneen in van stapel gestuur om werknemers teen infeksie van die koronavirus te beskerm.

Helgard de Villiers, uitvoerende beampte van menslike hulpbronne, sê al hul 2800 werknemers het reeds twee weke gelede ‘n Covid-19-bewusmakingsprogram ondergaan wat deur ‘n eksterne opleidingsinstansie aangebied is.

 

Binne die Peppadew-inmaakfabriek in Tzaneen.

Verder is streng maatreëls in plek gestel wat voldoen aan internasionale standaarde. “Die Departement van Gesondheid het die fabriek verlede Vrydag besoek en het gesê dit is die bes-toegeruste higiënefasiliteite wat hul tot dusver besoek het,” sê De Villiers.

“Ons het 40 addisionele nuwe outomatiese handontsmettingsmiddelmasjiene geïnstalleer. ‘n Werknemer wat die fabriek binnekom, word ontsmet voordat hy of sy deur die biometriese skandeerder gaan en weer daarna. Die skandeerder self word elke 4 ure deur ‘n werknemer skoongemaak en ontsmet.”

Herald het Peppadew genader vir kommentaar nadat ‘n werknemer gekla het oor beweerde ontoereikende veiligheidsprosedures by die fabriek.

De Villiers sê hul gebruik tans soveel ontsmettingsmiddel in een dag as wat hulle gewoonlik in een maand gebruik.

“Ons het net verlede week 1500 liter aangekoop en daar is outomatiese dispenseerders dwarsdeur die fabriek. Daar is geen beperking op hoeveel keer ‘n werknemer dit kan gebruik nie. Ons wag tans vir nog op ‘n bestelling van 60 eenhede van 5 liter elk.”

Omdat hulle soos ander maatskappye ook ‘n tekort aan maskers ervaar, het hulle Maandagoggend T-hemde wat vir bemarking bestem was, se moue opgesny en dit sal omskep word en aan werknemers gegee om oor hul monde en neuse te trek. “Ons het verskeie verskaffers geskakel en is in kennis gestel dat daar landwyd ‘n tekort aan maskers is en dat daar nie eers genoeg vir mediese personeel, polisie en weermaglede op die oomblik is nie.”

Op die fabrieksvloer, waar die vrugte se saad verwyder word, is die werknemertal met die helfte verminder om seker te maak dat hulle twee en ‘n half meter uit mekaar sit.

Agt digitale temperatuurskandeerders wat nie kontak vereis nie, is aangekoop om seker te maak dat werknemers nie koors het nie. “Ons voldoen aan elke aanbevole aspek van wat verwag word. Ons het by die Departement van Handel en Industrie aansoek gedoen om as ‘n noodsaaklike diens geregistreer te word, en al ons papierwerk is in orde. Ons het selfs gebeurlikheidsplanne in plek.”

Elke werknemer ontvang elke dag ‘n nuusbrief met inligting van bestuur om inligting aan hul oor te dra.

De Villiers vertel dat hul selfs ‘n toesighouer wat glo vriende is met die man van Gauteng wat positief getoets is vir die koronavirus, twee weke betaalde verlof gegee het vir self isolasie ten spyte daarvan dat hy geen kontak met die man gehad het nie.

“Ons fabriek se voorsorgmaatreëls voldoen aan die hoogste standaarde en daar is geen sprake van werknemers wat deur nalatigheid bloot gestel word nie,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button