Local newsNews

Water in Tzaneen en omstreke dalk op voor die volgende reënseisoen

Goeie laat reënneerslae sal help om die waternood wat binnekort mag ontstaan, aan te spreek.

Departement van water en sanitasie se Dag Zero vir die Letabagebied is vir Oktober geprojekteer, dit is nog voordat die nuwe reënseisoen ‘n aanvang neem.

Jacque Kruger van die Letaba waterverbruikersvereniging, sê ten spyte daarvan dat damvolumes in die opvangsgebied tans 30% minder is as in die vergelykende tyd verlede jaar, sal uiterse spaarsamige gebruik Tzaneeners, boere en gemeenskappe laer af langs die Letabarivier tot Oktober kan neem. “Dit sal egter ‘n gesamentlike poging van almal neem om dit te bereik. Van ons kant af bestuur ons dit baie streng,” sê Kruger.

Intussen het die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, verlede Donderdag aangekondig dat watertoewysing gesentraliseer sal word by ‘n Johannesburgse beheersentrum vir die duur van die COVID-19-inperking.

 

LEES OOK: Dag Zero ‘n realiteit vir Tzaneen

 

“Ons het al ons water geneem en dit onder een beheersentrum by Rand Water in Johannesburg geplaas waarvandaan alle versoeke wat water betref, sal kom,” het Sisulu gesê. In die geval van besproeiingsrade – hoofsaaklik boere en individue wat waterregte besit – sal daardie rade ook opdrag kry om water aan die regering beskikbaar te stel.”

Kruger sê die watergebruikersverenigings en besproeiingsrade sal, spesifiek met verwysing na die huidige krisis rondom die koronavirus, voorkeur aan residensiële gebruik moet gee indien dit noodsaaklik raak of soos deur die minister gelas word.

“Hierdie is nie ‘n aanslag op besproeiingsboere se watergebruiksregte nie, maar is maatreëls in ‘n noodsituasie.”

Tans het Tzaneendam 19,7% water teenoor 17,2% verlede jaar. Ebenezer is 22,4% vol teenoor 65,6% verlede jaar. Dap Naudé- en Magoebaskloofdamme is bykans vol, maar hul volume is so klein dat dit ‘n klein impak sal hê om volumes mee aan te vul indien dit noodsaaklik raak, sê Kruger.

Besproeiingsboere gebruik reeds sedert die begin van die huidige droogte net 30% van die water wat aan hulle geallokeer word. “Indien ons water opraak sal die impak op sitrusboere in die Letsitele-vallei ‘n ekonomiese ramp wees vir die omgewing.”

In die Kruger Park en Phalaborwa is die situasie tans ook ongunstig, sê Eddie Riddel, bestuurder van Kruger Park se waterhulpbronne. Hy sê hul water word ook deur damvlakke in die Letaba-opvangsgebied beïnvloed.

“Die uitdaging is om die Olifantsrivier se vloei te behou. Tans is die vloei reeds laag vir dié tyd van die jaar. Ons moet probeer om water in die riviersisteem te behou, veral om die landbousektor te bedien.”

Inwoners van Phalaborwa het egter nog nie waterbeperkings nie.

Hoedspruit se waterbronne is nog voldoende. Jurie van Vuuren, bestuurder van die Laer-Blyde waterverbruikersvereniging sê die Blyderivierspoortdam het genoeg water om die dorp en die omliggende boere te voorsien. “Dit is in pas met wat ons gewoonlik ervaar.”

In Tzaneen sê Kruger hul hoop op nog op ‘n laaste goeie neerval voordat die reënseisoen verby is. “Dit sal ons ‘n goeie hupstoot kan gee,” sê hy. Intussen geld waterbeperkings steeds in die Groter Tzaneen Munisipaliteit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button