Kotzé-egpaar in Aqua Park in Tzaneen verloor alles in brand
Dit is net die Here se genade dat die katte my ma en oom Johannes wakker gemaak het, sê Chantelle Luther.
‘n Bekende Tzaneense egpaar, Elize (61) en Johannes Kotzé (64), het gisternag al hul besittings verloor toe hul huis in Aqua Park in puin gelê is.
Volgens Chantelle Luther, Elize se dogter, het die brand rondom middernag ontstaan. “Hulle het wakker geword van katte wat in die omgewing lawaai het.” Omdat die huis in Christiaan Mullerstraat in ‘n L-vorm gebou is, het Johannes gesien dat een van die slaapkamers aan die brand is. Hy het gehardloop om ‘n emmer water te kry maar die rook en vlamme was reeds te erg.
Chantelle sê hulle kon darem hul twee rekenaars red en Johannes ‘n paar kledingstukke. In die hoofslaapkamer kon Elize ook klere uit haar kas kry nadat die brand geblus is. “Net die hoofslaapkamer staan nog maar die hele huis sal waarskynlik gesloop moet word weens die brand- en rookskade. Alles is weg,” sê ‘n bewoë Chantelle. “Ek het saam met ‘n brandweerman in die huis gegaan om my ma se trouringe te soek, maar daar is niks oor nie.”
Johannes is ‘n prokureur wat van sy huis af administratiewe regswerk doen. Hy het alles in die brand verloor. Hy het ook ‘n kantoor in Modjadjiskloof, sê Chantelle.
Elize is ‘n bloemiste wat voorheen Sanmarié’s Corner by Checkers bestuur het. Sy is ook ‘n geleentheidsorganiseerder.
Chantelle sê die brandweer en buurtwag het uitstekende werk gedoen en het haar ma en stiefpa met deernis behandel. “Die gemeenskap is so ondersteunend, ‘n mens kan nie glo nie. Ek kan net dankie sê aan almal.”

“Dit is net die Here se hand wat hulle bewaar het deur die katte wat hulle wakker gemaak het. Hulle is nou hier by my in Arbor Park, maar ly aan erge skok.”
Mense wat met Chantelle in aanraking wil kom, kan haar e-pos by cuttheq@gmail.com.
Lees meer in volgende week se Herald.
















